Louise Gevers 

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”Matteus 7:11-12
 
Gee jy graag geskenke? 'n Geskenk, groot of klein, is 'n plesier omdat dit vrylik gegee word om vir iemand anders blydskap te bring. Dit ontsluit 'n vrygewigheid van gees. 'n Suinige gesindheid verhinder ons om "ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het." (Efesiërs 2:10)
 
'n Dankgebed voor ete is 'n baie belangrike manier om te onthou dat ons daagliks onmeetbare gawes van God ontvang, en dit regdeur ons lewens ontvang. Sonder kos sal ons nie gesondheid en krag hê om enigiets anders te waardeer nie. Dit is dus noodsaaklik om God elke dag te erken en Hom vir sy goedheid te dank.
 
God is volmaak. Sy gawes is dikwels ver bo wat ons kan waardeer. Sy gawes is vir almal, oral, en Hy het nie witbroodjies nie. Jesus verduidelik God se regverdigheid soos volg: "Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?" (Matteus 5:44-46)
 
Dit verbaas 'n mens ook nie dat Jesus se leer vol uitdagings gevolg word deur sy verduideliking van die goue reël nie. God het mense na sy beeld geskep en Hy wil dat hulle vir mekaar omgee soos Hy vir hulle omgee, sodat almal in vrede kan saamleef en voordeel uit sy gawes kan trek. Die Israeliete het misluk in hulle poging om die Wet te onderhou en hulle het nie na die profete, sy boodskappers, geluister nie, maar God wou dat hulle as sy kinders steeds leer om, deur sy Seun, sy voorbeeld te volg.
 
Vir die uitleef van die goue reël, is dit noodsaaklik om aan die invloed van ons aksies op ander te dink, en onsself in "iemand anders se skoene" te plaas om te weet hoe ons in hulle plek sal voel en hulle dan te behandel soos ons graag behandel wil word. Dit vervul ook Jesus se opdrag "jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (Markus 12:31) Hierdie basiese beginsel kom in ander godsdienste met 'n etiek van wederkerigheid voor, dus in 'n negatiewe vorm, terwyl Jesus se positiewe beklemtoning daarop dui dat Hy 'n entoesiastiese reaksie van sy volgelinge verwag.
 
Wat Jesus in hierdie verse verduidelik is dat hierdie eenvoudige beginsel omvat die leer van die hele wet en die profete wat God daargestel het om die mensdom te leer om mekaar met sagmoedigheid en respek te behandel. As ons nie dié goue reël aanvaar nie, is ons medeverantwoordelik vir die verbrokkeling van ons samelewing. Die omgee vir ander is net so belangrik as om vir onsself om te gee.
 
Aanvaar ons hierdie goue reël?
 
Gebed: Here Jesus, open my oë sodat ek kan sien hoe wonderlik dit is dat ons Vader dikwels in my behoeftes voorsien, selfs lank voordat ek daaraan gedink het om Hom daarvoor te vra. Help my om te te besef dat hoe ek hierdie liefde in aksie ontvang, altyd 'n impak sal hê op alles wat ek doen. Help my om, soos ons Vader in die hemel, in sy wêreld te wees en te leef en ander met opoffering lief te hê soos U aan ons gewys het om te doen. Amen