Louise Gevers

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. Lukas 6:27-28
 
Hierdie woorde van Jesus is duidelik, maar moeilik om te verwerk by die eerste lees daarvan, omdat dit heeltemal teen die grein van ons natuurlike aard is. Ons hoef nie in 'n oorlogsituasie te wees om aan die hand van ander te ly nie. In alle lewensomstandighede wanneer mense ons sleg behandel beїnvloed dit ons, veral as ons van mening is dat ons dit nie verdien nie. Vir elkeen van ons is die vyand daardie persoon wat jou nekhare laat rys en veroorsaak dat jy op die verdediging is, diegene wat jou haat, vervloek of mishandel. Jesus se opdrag is dat ons hulle moet liefhê, hulle moet seën en vir hulle moet bid.
 
Verstaan Jesus hoe moeilik dit is? Natuurlik verstaan Hy. Hy doen wat Hy sê, so wanneer ons Hom gehoorsaam en sy voorbeeld volg wanneer ons gekonfronteer word met daardie persoon wat ons seergemaak of te na gekom het, sal ons, soos Hy, vrede kan maak en positief aanbeweeg. Dit bemoedig ons, maar dit maak dit nie noodwendig maklik wanneer ons onopgeloste gevoelens het nie, want ons moet eers met ons seerkry en trots deel om dit te kan oplos. Sy woorde daag ons uit tot die uiterste, maar dit is nodig omdat dit is hoe ons sal verander.
 
Salomo sou verstaan hoekom Jesus so direk gepraat het want hy het vir lank God se wysheid oordink en dit pynlik, maar tog betroubaar, gevind want dit was op die man af en het nie noodwendig aan 'n individu se gevoelens toegegee nie: "Hy [die prediker] het daarna gestrewe om hom raak uit te druk en die waarheid getrou op te teken. Die woorde van mense met wysheid is soos skerp stokke, versamelde spreuke is soos spykers wat ingeslaan is. Hulle is deur een Herder gegee." (Prediker 12:10-11)
 
Jesus roep ons om te doen wat reg is, nie wat gemaklik is en ons eie begrip van omstandighede pas nie. Tog is dit vir ons eie welstand. 'n Wrok verander in onvergewensgesindheid, wat in bitterheid oorgaan en wat, as dit nie aangespreek word nie, tot swak gesondheid kan lei. Selfs al was ons oorspronklik nie skuldig nie, gaan dit ons op die langduur nie help om 'n wrok te koester nie, al probeer ons hoe hard om dit te regverdig.
 
Miskien is dit soos die klippies wat ons kleindogter in ons voëlvoerder gegooi het toe ek dit volgemaak het en wat dit verstop het. Sy was onbewus dat dit die balans sou versteur en baie gou sou keer dat die saadjies deurloop. Die psigoterapeut, Gregory Popcak sê dat "bitterheid onvergewensgesindheid is wat gegis het." Dit stop gesonde ontwikkeling want 'n persoon wat nie vergewe nie, voed die seer en kwaad in plaas daarvan om dit te verdryf.
 
Die skrywer van die Hebreërs Boek waarsku ons: "Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie." (Hebreërs 12:15)
 
Jesus se woorde is nie net opreg en regverdig nie, maar wysheid vir ons siele. Wat doen ons met hierdie uitdaging?
 
Gebed: Here Jesus, hierdie moeilike woorde is 'n uitdaging vir ons, maar u genade is groot. "U het die woorde wat ewige lewe gee" (Johannes 6:68), help ons asseblief in ons nood. Amen