Louise Gevers 

“Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op. Hy het dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. Handelinge 9:34-35
 
Die lewe sonder Jesus is soos om op 'n ventilator te wees wat nie ingeprop is nie – ons stry voort om, solank ons die krag en wil het, regdeur ons lewens op ons eie asem te haal. Alhoewel alles in plek is om ons ervarings positief te verander, kan ons ons net nie met die bron verbind nie. Te dikwels is dit slegs eers wanneer ons die punt van desperaatheid bereik dat ons daaraan dink om die kragprop na te gaan – maar soms arriveer daar iemand om ons te help en alles word uit ons hande geneem.
 
Dit is juis dit wat Petrus in die lewe van Eneas gedoen het toe hy Joppe besoek het. Eneas, 'n verlamde man, was vir agt jaar bedlêend voordat Petrus op 'n dag daar aangekom het met die goeie nuus dat Jesus hom kon genees. Petrus was gevul met die Heilige Gees en geloof en Eneas het onmiddellik op Petrus se bevel gereageer en opgestaan. Hierdie wonderbaarlike genesing het so 'n groot impak gehad dat, "al die mense van Lidda en die Saronvlakte [wat] hom gesien [het] hulle tot die Here bekeer [het]." Werklik wydverspreide werking van die Heilige Gees op daardie dag.
 
Soms is daar nie onmiddellike genesing nie. God werk oor 'n tydperk in 'n persoon se lewe voordat daar genesing kom – heel moontlik om dieselfde rede as wat Hy onmiddellik in Eneas se lewe gewerk het – sodat mense ook bewus kan word van hulle behoefte aan geestelike genesing.
 
Van die eerste grendeltydperk was dit duidelik dat as gevolg van die Covid-pandemie ons wetlik verplig sou word tot die grootste aktiewe weerstand teen 'n siekte wat ons nog ooit beleef het, wat beteken dat geen kontak met iemand anders toegelaat is nie.
 
Skeiding van mense in die gemeenskap was moeilik, maar nog moeiliker was om, ter wille van ons veiligheid, ook van familie geskei te wees. En dit was selfs nog moeiliker om geliefdes in die hospitaal te hê en, juis in 'n tyd wat hulle ons ondersteuning so nodig het, nie toegelaat te word om hulle te besoek nie.
 
En tog het daar wonderlike dinge gebeur, want Jesus is nooit toegang tot enige plek van lyding geweier nie. "Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee." (Johannes 3:35) Terwyl baie mense die "ekstra" tyd wat hulle bekom het omdat hulle nie na die kantoor of winkels hoef te reis nie op hulle knieë in gebed deurgebring het, was Jesus by die siekes, die benoudes en die sterwendes – by almal wat Hom aangeroep het.
 
Waar ons ook al is, kan ons Jesus aanroep om sy geskenk van nuwe lewe te ontvang, en Hy sal ons dan verder lei en ons bewus maak van dit wat vir Hom belangrik is. Ons verbintenis met Jesus is wat uiteindelik sal vasstaan, ongeag wat in die wêreld om ons gebeur. Hy het nie verander nie al het ons wêreld verander.
 
Gebed: "Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor." (Miga 7:7) "Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees." (Psalm 90:14) Amen