Louise Gevers 

“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Johannes 8:12
 
Daar is so baie in die lewe wat mooi is en liefde en lig uitstraal, maar reg langs dit is die werklikheid van duisternis in 'n gebroke wêreld vasgevang deur sonde waar, in die vorm van haat, onreg, misdaad, geweld – alles dinge wat ons daagliks beleef – daar gestoei word om die lig te probeer uitdoof. Sonde ontstaan in die hart en bring konflik en twyfel na die verstand en gees, en laat op die ou end 'n spoor van verwoesting na.
 
Sonde begin dikwels op 'n onverwagse klein manier – deur 'n gedagte, 'n verkeerde woord, gebrek aan selfbeheersing, miskien deur vrees of dikwels deur 'n kombinasie – wat veroorsaak dat ons nie op Jesus fokus nie en voor die sonde swig.
 
Petrus het die wydverspreide Christene aan wie hy geskryf het, gewaarsku: "Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur." (1 Petrus 5:8-9)
 
Petrus het die donker vrees ervaar toe hy toegelaat het dat die golwe sy aandag aftrek eerder as om op Jesus te fokus. Dit het weer gebeur toe hy Jesus verloën het, maar Jesus het Petrus vergewe, hom opgelig en die lig in hom herstel. (Lees Johannes 21:15-17) Vrees het ook ons wêreld oorweldig toe die virus sonder waarskuwing gearriveer het, maar Petrus roep ons om vas in die geloof te staan en die duiwel teë te staan want Jesus het hom reeds oorwin.
 
Ons benodig die helder lig van Jesus wat reinig en herstel, "die lig [wat] skyn in die duisternis, [en wat] die duisternis nie [kon] uitdoof nie" (Johannes 1:5) sodat ons ook dinge duidelik kan sien omdat ons gereining en vergewe is en elke dag ons seëninge kan tel. Waar Jesus ook al sy lig laat skyn, gebeur goeie dinge – nog nie volmaak nie, maar vol hoop, liefde en genade.
 
Jesus beloof dat niemand wat Hom volg in die duisternis sal lewe nie, omdat sy "lig wat lewe gee" in hulle sal skyn. So, alhoewel daar duisternis om ons is, kan dit nie die lig in ons uitdoof nie. Hy sal ons deur die donkerte van 'n pandemie lei, net soos Moses die Israeliete deur die Rooi See onderweg na die Beloofde Land gelei het, op droë land, weg van die water. Soos die Israeliete weet ons waarheen ons op pad is. Ons moet op Jesus bly fokus en volhard soos sy lig in ons ons lei.
 
"Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het 'n lig geskyn." (Jesaja 9:1)
 
Gebed: Here Jesus, U het die wonderlike lig van die hemel verlaat om ons idee van duisternis in hierdie wêreld vir altyd te verander. Help my in hierdie moeilike tyd waar die donkerte ons wil oorval en hartseer oral is. Wys my dat u waarheid en lig 'n groter werklikheid is. Help my om my hart te deursoek en gee dat my geloof in u lig sal help dat ek my "met eerbied en ontsag daarop [sal] toelê om as ['n] verloste mens te lewe." (Filippense 2:12) Amen