Louise Gevers 

“Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Lukas 6:37-38
 
Die harde gelui van die deurklokkie versteur die oggendvrede. Die man voor die deur is netjies aangetrek en ek weet reeds wat om te verwag. Met sy Bybel in die lug en 'n paar aanhalings uit die Skrif, vertel hy my dat ek hom moet gee wat die Here op my hart lê om te gee. Uit vorige ondervindings met die man het ek geen begeerte gehad om hom enigiets te gee nie, want die teenstrydighede in wat hy gesê het, het my kwaad gemaak. Maar ons teksverse vir vandag het by my opgekom.
 
Die woorde het my uitgedaag om te reageer op Jesus se opdrag om ons naaste lief te hê soos onsself en te weet hoe om barmhartig te wees teenoor mense met 'n behoefte, eerder as om ontsteld te wees oor hulle twyfelagtige houding. 'n Persoon wat ooglopend honger is en vir kos vra, roer 'n mens se hart, maar iemand wat op 'n ongeleë tyd opdaag en dan onmiddellik begin om eise te stel, maak dit moeiliker. Maar as ons na Jesus toe gekom het om iets van Hom te vra, sou Hy ons oor ons swak benadering weggewys het?
 
Jesus se reaksie op die behoeftes van mense, is altyd vol genade. Toe die melaatse sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak,” lees ons "Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” (Lukas 5:12-13) Toe die mense honger was, het Jesus vir hulle kos gegee alhoewel sy dissipels se raad was: "Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek … ” (Lukas 9:12) Sy antwoord was: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” (Lukas 9:13) Jesus het toe wat hulle gehad het, vermenigvuldig en die skare gevoed. Hy doen dit steeds, deur ons te gebruik.
 
Ons moet elke keer bid oor die situasie en God vertrou om ons te lei wanneer ons vra wat sou Jesus gedoen het. Toe Hy op die aarde was, het Hy vir ons die voorbeeld gestel. Wanneer mense genesing benodig het, het Hy hulle gesond gemaak. Wanneer hulle onderrig benodig en vrae gevra het, het Hy hulle geantwoord en geleer.
 
Hy het nie hulle uiterlike voorkoms veroordeel nie. Hy was nie bevooroordeeld nie. Hy het na die behoeftes in hulle harte gekyk, soos die geval van die vrou by die put. (Lees Johannes 4:7-42) Hy het sondaars nie veroordeel nie, maar hulle vergewe. "Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Johannes 8:11)
 
Vir elke behoefte het Jesus uit die diepte en rykdom van sy hart gegee. Miskien het Shakespeare iets hiervan verstaan: “The quality of mercy is not strained. It droppeth as the gentle rain from heaven upon the place beneath. It is twice blessed: It blesseth him that gives and him that takes.”
 
Gebed: Here Jesus, gee aan ons harte soos u s'n, sodat ons die vreugde kan leer ken om met 'n vrygewige gees te gee, sonder om diegene wat ons nie ken nie te veroordeel, maar hulle eerder te seën soos U ons geseën het. Amen