Jesus stel die maatstaf - 11 Maart 2021Louise Gevers 

“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën. Markus 10:14-16
 
Daar is 'n kort hartverwarmende videogreep met die titel "If you are born in 2020, everything looks like a hand sanitizer” (As jy in 2020 gebore is lyk alles soos handreiniger) wat op sosiale media die rondte doen. Die video wys 'n aantal kleuters wat lyk of hulle hulle handjies ontsmet by strukture op hulle hoogte wat enigsins lyk of dit gebruik kan word om hande mee te ontsmet: 'n buiteligbattery, 'n skakelaar, 'n klein gaatjie in 'n muur of 'n water spuitkop. Hulle boots hulle ouers presies na en stap dan hoogs tevrede weg.
 
Kinders boots graag volwassenes na wat iets "belangriks" doen en wys daardeur hulle onskuldige reaksie op die wêreld soos hulle dit ervaar. Hulle onskuld en eerlikheid openbaar hulle pretensielose aard en spontane lewensvreugde.
 
Hulle vertrou maklik en vergewe vinnig, hulle is nuuskierig en gretig om te leer, hulle aanvaar graag hulp en is lief om op hulle beurt ander te help. Hulle herken die waarde van mense wat omgee. In werklikheid, hulle is nog nie deur die lewe besmet nie. Dit beteken nie dat hulle nooit iets verkeerd doen nie, maar dat hulle onvolwasse foute 'n leerkurwe is en nie reeds in hulle gevestig is nie.
 
Jesus leer sy dissipels dat kinders vir Hom belangrik is en dat kinderlike eenvoud die sleutel is wat ons ontvanklik maak om die koninkryk van God te ontvang en dit verhoed die trots, lusteloosheid, sofistikasie en sinisme wat in mense se harte ontwikkel en geloof uithou. Diegene wat die koninkryk van God wil ontvang, moet met 'n kinderlike geloof in Hom vertrou en gewillig wees om die wil te doen van sy Vader wat in die hemel is. (Lees Matteus 7:21)
 
Miskien was dit hierdie gees van kinderlike geloof wat teenwoordig was in die 72 dissipels wat Jesus op 'n sending uitgestuur het en wat hulle in staat gestel het om met groot blydskap na Hom terug te keer. (Lees Lukas 10:17-21)
 
Jesus het vir hulle gesê: "Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe." (Matteus 10:16) Hierdie opdrag was om hulle te waarsku om die gevare van sonde wat hulle teëkom met wysheid te hanteer, onskuldig te bly en met kinderlike vertroue vas te hou aan sy waarhede.
 
Het jy die koninkryk van God soos 'n kind ontvang en opnuut die skoonheid van kinderlike geloof en vertroue ontdek? Ons moet dit doen.
 
Gebed: Here Jesus, help my asseblief om te onderskei of ek nog die eenvoudige vertroue en geloof van 'n kind moet ontdek om eerlik, pretensieloos en spontaan met U te wees sodat ek u waardes in my lewe duidelik kan verstaan en dit kan vier. Help my om afstand te doen van my ou vernietigende houding en bevry my van alle trots en enige wrok wat ek mag koester wat my begrip van U kan verhinder. Help my om u wil te doen en tot u eer te leef. Amen