Louise Gevers 

Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. Matteus 14:13-14
 
In sy boek "The Plain Man Looks at the Bible" sê William Neil: “… the less self-centred our lives become, and the more we are concerned for others, the less likely are we to suffer from maladjustments, neurosis, depression and similar modern ills.” Ons is soms geneig om te veel van onsself te dink, probleme waar moontlik te vermy en te probeer om dinge gemakliker vir onsself te maak.
 
Jesus se lewe kon nie meer onbaatsugtig gewees het nie. In die drie jaar van sy bediening is sy tyd opgeneem deur preek, onderrig en genesing – alles dinge wat lang ure van betrokkenheid by mense verlang en wat Hom uitgeput het, maar Jesus het 'n bykomende voordeel in sy daaglikse lewe gehad. Sy manier om met al die lewensdruk te deel, was om gereeld alleen weg te gaan om tyd met sy Hemelse Vader deur te bring waarna Hy dan teruggegaan het om met nuwe krag sy bediening voort te sit. In alle omstandighede het Jesus se vermoë om medelye met mense in nood te bewys, nooit gewankel nie.
 
Jesus is diep geraak toe Johannes die Doper deur Herodus doodgemaak is. Die man van wie Jesus gesê het: "onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is … nie" (Matteus 11:11) se kop is afgekap om Herodias se bose wraaksug te bevredig. Sy het haar dogter se "beloning" omdat sy vir Herodus en sy vriende gedans het, gebruik. Dit was skokkend vir almal wat daarvan geweet het, maar soveel te meer vir Jesus aangesien Johannes 'n familielid was.
 
By die aanhoor hiervan het Jesus alleen weggegaan, maar hy het skaars teruggekeer of die menigte het weer by Hom aangesluit. Instede van om geїrriteerd te wees, het sy medelye met hierdie mense in nood, wat so ver geloop het om Hom te sien, Hom oorval en Hy was gereed en toegerus om in hulle behoeftes te voorsien.
 
Wanneer ons uitgerekte tye van swaarkry beleef, of dit nou deur siekte, hartseer, verhoudingsprobleme, werksake of Covid-19 is, en ons uiteindelik breekpunt bereik, ontneem van energie, benodig ons ook tyd om met God te spandeer. Hy sal verstaan en ons 'n helder verstand gee, ons geloof herbevestig en ons gees nuut maak.
 
Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. (Hebreërs 4:15-16)
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U altyd soveel medelye met mense in nood het. U voorbeeld bemoedig my wanneer ek in my swakheid op my eie begrip vertrou. Ek erken my neiging om, ondanks my gebrek aan hulpbronne, op myself te probeer staatmaak. Ek vra dat u krag in my swakheid volbring sal word. Help my om vandag medelye met ander te hê, deur u genade nuut gemaak te word en van u Heilige Gees krag te ontvang. Amen