Louise Gevers 

Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” Lukas 8:49-50
 
Tydsberekening in ons alledaagse lewens is moeilik, maar dit is noodsaaklik. As Jesus in ons samelewing geleef het, sou Hy ten minste 'n persoonlike assistent gehad het om te verseker dat Hy betyds opdaag oral waar Hy benodig is – veral as 'n mens in ag neem dat Hy oral te voet gegaan het. Maar Jesus is nooit deur tyd regeer nie.
 
Jesus was nie 'n onderwyser wat deur die klok beheer is nie. Hy was uniek. Hy het al die tyd Homself volkome gegee om na "die verlore skape van die volk Israel" (Matteus 15:24) uit te reik, mense te onderrig, te genees, betrokke te wees in debatte, duiwels uit te dryf, etes by te woon, die skares te voed, kwaliteit tyd met vriende te spandeer en in sy "vrye tyd" by kinders betrokke te wees. Niks was ooit te klein of te groot vir sy sorg of besorgdheid nie, en oral waar Hy gegaan het, het die skares Hom ingewag.
 
So toe die dag aanbreek waar twee baie belangrike "afsprake" bots en tragedie toeslaan, was Hy onverstoord. Hy het beide met gemak hanteer.
 
As ons uitgeroep word om 'n 12-jarige sterwende dogtertjie te gaan genees, sal dit heel waarskynlik met loeiende sirenes wees, maar Jesus doen dit te voet, en word oral vertraag en byna vertrap deur die mense wat om Hom saamdrom. (Lukas 8:42) Hy het ook nie die persoon wat Hom aangeraak het, geїgnoreer nie. Hy het gestop want Hy het geweet dat daar krag van Hom uitgegaan het. Hy wou baie duidelik die persoon identifiseer en die genesing voltooi en die persoon loof vir die moedige optrede van geloof wat dit moontlik gemaak het. Hy wou nie dat die persoon verdwyn en dink dat die krag in sy klere was en nie in God nie.
 
Terwyl Jesus vir die geneesde vrou sê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!” (Lukas 8:48), kom daar 'n boodskapper met die nuus dat die dogtertjie gesterf het. Wat 'n surrealistiese ervaring vir Jaїrus. Jesus was egter nie deur die dood se tyd gebonde nie. Hy sê onmiddellik vir Jaїrus: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” (Lukas 8:50) En Jesus het haar genees.
 
Is Jesus se tydsberekening nie waaroor geloof gaan nie? Dit handel nie oor die hier en nou nie – oor dit wat ons kan sien nie – maar wel met elke asemteug te glo dat terwyl ons tred hou met Jesus, sy tydsberekening volmaak is, en dat dit saak maak en ons in staat stel om geduldig te wag op dit wat Hy ons beloof het.
 
Jaїrus se geloof in Jesus se tydsberekening het sy dogter na hom teruggebring en eer aan God gegee.
 
Gebed: Here Jesus, gee dat ek altyd sal onthou hoe groot U is, en dat U in beheer van tyd is. Help my om tred te hou met U sodat my geloof kan groei en gee dat ek in elke moeilike situasie in my lewe op u volmaakte tydsberekening sal vertrou. Amen