Vers n dag - 21 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Twyfel en Afhanklikheid.
Skrifgedeelte: Mark 9:22-24
Soms gebeur daar dinge in ons lewens wat ons nie verstaan nie. Jy bid vir 'n saak en die teenoorgestelde gebeur; jy is gehoorsaam en doen die regte ding en jy ly daarvoor, of iemand na wie jy opgesien het, draai skielik sy rug op geloof. Dit is dan wanneer twyfel aan jou deur kom klop.
'n Pa bring sy stom en dowe seun na Jesus se dissipels toe vir gebed dat hy gesond word. Dit gebeur nie. Toe Jesus daar aankom, verduidelik die pa dat die dissipels nie die gees kon uitdryf nie en hy vra Jesus om dit te doen. Die manier waarop hy dit vra, verklap sy twyfel: As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons." (v 22)
Jesus se antwoord bring die man (en vir jou en my) by die kern van die probleem uit – ons gebrek aan geloof: "'As U iets kan doen,' sê jy," antwoord Jesus. "Vir die een wat glo, kan alles."(v23) Jesus wil hê die pa en die skare moet besef dat Hy enige onmoontlike situasie kan verander, maar dat selfs lewensgeloof nie sonder Hom moontlik is nie! Al hulle hoop moet op Sy vermoë gevestig wees. By die aanhoor hiervan roep die pa eerlik uit: "Ek glo...(maar)...help my in my ongeloof"(v24) of anders gestel: "Ek glo! Help my tog om nie meer te twyfel nie!"
Jesus veroordeel nie die pa vir sy ongeloof of twyfel nie, maar gee ag op sy erkenning dat hy hulp nodig het om te glo, en Hy beveel die gees om uit die seun uit te gaan. Die gees wend egter 'n laaste poging aan om die skare se geloof te troef: hy laat die seun stuiptrekkings kry en los hom roerloos agter. "Hy is dood!" sê die mense. So tipies mens! Ons fokus altyd op die sigbare dinge en dit laat ons lewensgeloof kort-kort wankel.
Maar let op: selfs nou veroordeel Jesus nie hulle ongeloof nie, maar Hy eer die vader se afhanklike geloof en vat die seun se hand, help hom op en laat hom regop staan. So demonstreer Hy dat geloof in Hom en sy vermoë, die antwoord op die onmoontlike dinge in ons lewens is.
Dalk bevind jy jou in 'n onmoontlike situasie waaraan jy niks kan doen nie; jy twyfel of enigiemand kan; jy twyfel selfs of die Here kan, maar jy het hulp nodig! Daar is geen formule om geloof te kry of dit meer te maak nie, maar ons kan vra daarvoor. Die blote feit dat jy vra, is reeds 'n erkenning dat daar tog 'n mosterdsaad van geloof in jou hart is. As jy dan nog verder vra dat die Here jou help in jou ongeloof, sal Hy jou hoor en antwoord, want Hy Is. Hoor wat Hy vir jou sê: "Vir die een wat glo, kan alles," in ag genome natuurlik dat "alle dinge" in ooreenstemming met Sy wil is. (1 Joh 5:14,15).
Gebed: Vader, ek glo, maar dis maar gebrekkig met tye. Help my in my ongeloof en bring my begeertes in lyn met U wil. Amen.
As jy nie twyfel aan jou ewigheidsgeloof nie, maar sukkel met jou lewensgeloof, kan jy gerus die boek SANDGROND, geskryf deur Carina Francke direk by haar bestel. Koste: R100 plus posgeld.