Vers n dag - 18 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Loof Hom
Carina Francke
Skrifgedeelte: Ps 104: 1-2; 10-12; 14-15; 19, 24,30
Dis altyd lekker om uitbundig verspot, aan jou wenspan lof te bring – dis asof dit jy self is wat die oorwinning behaal. Wat my die meeste verwonder is die kreatiewe danspassies, boepens-wikkels, desibel gilstemme en omhelsings wat wildvreemdes skielik geesgenote vir 'n oomblik maak.
As ek nadink en lees oor wie die Wenner van alle tye is en wat Hy vir ons gedoen het, voel ek ook om so uit my vel, skaamteloos en sonder pretensies my blydskap uit te jil. Ek dink dis gepas om hier aan die einde van 2011 net weer te onthou waarom ons Hom kan (en moet) loof! Ps 104:1-22 lig 'n paar dinge uit:
Hy is beklee met koninklike luister; met 'n kleed van lig omhul; Hy span die hemelkoepel soos 'n tentdoek en het die aarde stewig gevestig. Hy laat fonteine in valleie ontspring en tussen berge deur stroom. Daar sorg Hy vir wilde diere en voëls ( en selfs vir Elia by Krit.) Hy laat dit reën en gras uitspruit vir die diere en groen plante vir die mens. Hy het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan. Hy het baie dinge geskep, alles is in wysheid geskep. Hy maak sy hand oop en daar's kos om te eet vir alles wat leef. Hy gee die lewensasem en daar is lewe!.
Maar dis nie al nie. Jesus Christus het Homself vir ons sondes gegee om ons te verlos uit die goddelose wêreld (Gal 1:3). Deur sy bloed is ons verlos en is ons oortredinge vergewe (Ef 1:7) en omdat ons sy kinders is het God die Gees van sy Seun in ons harte uitgestuur, en Hy roep:'Abba Vader' (Gal 4:6). Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (Efe 1:3) en gee aan elkeen wat glo, die ewige lewe sodat ons wat oorwin, nie deur die tweede dood geraak sal word nie.(Joh 3:36; Open 2:11)
Wat 'n onbeskryflike God! Dit laat jou asemloos! Die verwondering hieroor dwing my hande in 'n jubelklap, sit my voete aan't beweeg en laat my uitroep:" My Here en my God!"
Dalk is jy vandag op 'n plek waar selfs hierdie waarhede nie vir jou veel beteken nie. Jy het nie jou geloof verloor nie, maar jou omstandighede is niks om oor te juig nie, jy voel dalk nie om oor God bly te wees nie. Onthou dan: jou Skepper is 'n wenner wat namens jou die oorwinning behaal het. Met dit in gedagte, doen dan wat Dawid gedoen het ten spyte van sy omstandighede - praat met jouself: "Wat buig jy jou neer, o my siel, en is jy onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof.." (Ps 42:6)
Gebed: Hemelse Vader, U werke is groot! U genade is groot! U is groot! Met my mond loof ek U en my hande waai ek soos gerwe in die wind. My voete bokspring en vat dan pad tot daar waar ek U ontmoet, want U is die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel." (Ps 22:4). Mag my poging tot lof, vir U ook aanvaarbaar wees. Amen.