Vers n dag - 17 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Vergelding en Sy teenwoordigheid
Carina Francke
Skrifgedeelte: Psalm 73 (NAV)
Het jy al gewonder hoekom dit dikwels goed gaan met ander mense (en soms beter as met jou), maar wat niks van God en Sy gebod wil weet nie; wat sterk en gesond is, geen teëspoed ervaar nie, wat mense beledig sonder dat daar iets met hulle gebeur en met wie dit oënskynlik geestelik goed gaan? Het dit jou al laat wonder of God rêrig vir jou lief is en jou afgunstig gemaak as jy hulle voorspoed sien?
Asaf het ook so gevoel. Hy was “verbitterd en veronreg” (Ps 73:21) en kla in die Psalm oor dié mense wat ongehinderd hulle eie pad loop terwyl hy probeer om die kwaad te vermy. Hy soek vergelding, maar sien dit nie. Dié stand van sake laat hom “twyfel oor God se goedheid vir die wat rein van hart is en het hom so byna koers laat verloor.” (v1,2).
Maar dan kom hy tot insig: “As ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort. Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.”(v16,17).
Hoor jy hoe kry hy (en jy kan ook) ’n nuwe, perspektief op die stand van sake? Hy het eerstens besef dat hy ander gelowiges verloën deur so te praat. Tweedens besluit hy om na te dink en te probeer verstaan hoekom die lewe so werk, maar dis ook moeilik. Hy sien eers lig toe hy in die teenwoordigheid van God kom. Daar kry hy ’n ewigheidsperspektief – daar gaan wel ’n dag aanbreek dat reg en geregtigheid geskied. Miskien moet ons meer dikwels die Here se teenwoordigheid gaan opsoek as ons so voel. O, dis nie asof Hy nie voortdurend by jou is nie, nee, dit is ons wat so opgeslurp raak met ons eie opinies en aktiwiteite, dat ons nie Sy stem duidelik hoor nie.
Hierdie nuwe insig gee hom ook ’n kykie in sy eie hart: hy was “dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra”(v23.) En tog besef hy ook dat selfs in hierdie tyd “..was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. U lei my met raad.”(v23). Besef jy die Here se sorg oor jou? Selfs in jou dom en insiglose dae neem Hy die inisiatief – Hy vat jou aan die hand – en lei jou op die regte pad.
Dalk het jy nodig om intensioneel tyd eenkant te sit en met die Here in gesprek te gaan oor jou bitterheid, verontregtheid of onvergenoegdheid. Dit is net by Hom wat ons anders kan begin kyk en dink oor kwessies in ons lewens.
Gebed: Here, ek wil soos Asaf verklaar: “Daar is vir my niks in die hemel of op aarde wat vir my meer beteken as U nie; aan U behoort ek vir altyd – U is die rots van my hart en my deel. Dit is vir my goed om naby God te wees en ek kies die Here my God as my toevlug! Ek sal van al U werke bly vertel.” (v25-28) Amen