Vers n dag - 22 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Sien Is Glo (Twyfel)
Carina Francke
Skrifgedeelte: Joh 20:24-30
Thomas kon nie verstaan dat Jesus, sy leermeester dood is nie, maar nou verwag die ander dissipels hy moet glo dat Hy leef en dat hulle Hom gesien het! Sy twyfel slaan duidelik deur toe hy hulle antwoord: "As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie." (Joh 20:25) Vandaar ons bynaam vir mense wat altyd twyfel: Ongelowige Thomas
Jy moet verstaan dat die Grieke destyds geglo het dat mense wat doodgaan se liggame heeltemal vergaan, maar dat hulle bly leef het in 'n vorm wat as 'spoke' beskryf kan word. Hulle word wel in die vorm van mense gesien, maar jy kan nie aan hulle vat nie. G'n wonder nie dat hy daarop aandring om eers aan die wonde te vat voordat hy sal glo Hy het opgestaan. Die wonde sou die finale bevestiging wees dat Jesus leef.
Jesus het geweet dat Thomas twyfel en uit hierdie agtergrond kom, daarom ontmoet Hy hom op sy vlak van "geloof" – Hy nooi hom uit om sy vinger in die merk van die spyker en sy hand in die gat in sy sy te steek om seker te maak dis Hy. Hy sê vir hom: "Moenie ongelowig wees nie, maar gelowig." (v27). Thomas doen dit, en toe Hy die wonde aanraak, verklaar hy oortuigend: "My Here en my God!" (v28), waarop Jesus sê: "Omdat jy my gesien het, Thomas, het jy geglo; salig (gelukkig) is die wat nie gesien het nie en tog geglo het."(v29)
Ongelowige Thomas wat net sou glo as hy kon sien, se belydenis behoort die waarheid oor wie Jesus is vir altyd in die mens se hart vas te maak: Hy is die enigste Een wat mag het om sy lewe af te lê en dit weer op te neem (Joh 10:17-18). Dit is die bewys dat Hy van God kom en dat Hy Is!
Die Here weet wie jy is, wat jy glo en uit watter agtergrond jy kom. Dink jy nie Hy is in staat om jou die waarheid te laat sien oor Hom of jou omstandighede nie? Waarom soek jy nie sommer vandag al vir 'n geleentheid hiervoor uit nie? Jou ewigheidsgeloof – daardie geloof dat Jesus aarde toe gekom het, gesterf het en opgestaan het - is krities vir jou saligheid.
Ek en jy kan Jesus nie sien soos Thomas nie, maar Hy is die Een in wie ons moet glo en vir wie ons moet vertrou om ons ook in ons lewensgeloof vas te maak. Hy noem ons gelukkig as ons glo sonder om te sien.
Gebed: Vader, ek het ook vooropgestelde idees oor wat en waarvoor ek glo. Ek weet dat U Here en God is, maar ek glo dit nog nie van harte nie. Werk met my soos wat U weet die beste vir my sal wees sodat ek vanuit 'n geloof-hart kan roep: My Here en my God!" Amen.