Dag 9: HOE STERK IS JOU GELOOF? - 11 Februarie 2021
Deur Benescke Janse van Rensburg
God doen stééds wonderwerke. Dít is wat sakevrou, Gugu Moloi beleef het. Ek deel graag haar getuienis soos vervat in my boek, God is stééds God:
Gugu: “Dit was ’n Sondagmiddag en ek was in Johannesburg vir werk. Ons huishulp het my histeries uit Durban gebel. Waar sy buite ons huis gestaan het, het dit gelyk asof daar ’n bloedspoor in ons huis in lei. Sy wou weet wat sy moet doen. My voorstel was dat sy ’n buurman moes kry en dan gaan ondersoek instel. Minute later het sy teruggebel. Die keer kon ek skaars uitmaak wat sy sê aangesien sy só histeries was. Hulle het my seun in ’n plas bloed op sy kamervloer gevind. In my eie skok het ek vir haar gesê om kalm te bly terwyl ek die paramedici bel.
“Nadat ek die foon doodgedruk het, het ek by die tafel gaan sit en gebid: ‘Almagtige God, U wat alles sien. U is oral teenwoordig. In die Naam bó alle name, Jesus Christus, vra ek dat U my seun sal opwek. Sy roeping is nog nie klaar op aarde nie. Hy is nou eers 28 jaar oud. Ek vra dat U in die Naam van Jesus Christus intree.’ Dit was ’n eenvoudige gebed, gevul met geloof en oortuiging dat God in beheer was.
“Sowat 15 minute later was die paramedici in Hillcrest by ons huis. My huishulp het die selfoon vir een van hulle gegee om die situasie aan my te verduidelik. Die man se eerste woorde was: ‘Mevrou, ek is jammer om u mee te deel, maar u seun het gesterf.’ Om een of ander rede het ’n heilige woede na bó geborrel terwyl ek sê: ‘Ek aanvaar nie jou verslag nie. My seun sál leef. Sit asseblief die foon by sy oor sodat ek met hom kan praat.’ Om my te probeer paai het hy gesê: ‘Mevrou, ek besef u is geskok en ontsteld, maar u seun leef nie meer nie. Ons werk elke dag met hierdie tipe goed. Hy is reeds toegegooi.’ Weer het ek hom gevra om die foon by my kind se oor te hou. Alhoewel ek kon hoor hy is geïrriteerd, het hy gedoen wat ek gevra het. In geloof het ek gebid: ‘Almagtige God, U wat alles weet. By U bestaan daar geen afstand wanneer ons bid nie. In die magtige Naam van Jesus Christus vra ek dat U lewe blaas in my seun se liggaam. Hy het nog nie sy roeping vervul nie.’
“Ná my gebed het ek my foon afgeskakel en vir twee ure lank aangehou om God te loof en te prys en Hom aan sy beloftes te herinner. Dit was ’n tyd waarin ek geen twyfelgedagtes in my hart toegelaat het nie. Net geloof in God.
“Twee ure later het ek teruggebel. Die paramedikus het die foon geantwoord. My eerste woorde was: ‘Laat ek met my seun praat.’ Geskok het hy gevra: ‘Hoe weet jy dat hy leef?’ Later sou ek hoor dat my seun ná my gebed met die foon teen sy oor skielik sy bewussyn herwin het. Die paramedici het gesukkel om hom te stabiliseer, maar in die halfuur voordat ek teruggebel het, het hy al sterker geword. Trane het oor my wange gestroom met die wete dat ons Almagtige Vader ingetree het en dat Hy lewensasem in my seun se longe geblaas het!”
God het ’n bonatuurlike wonderwerk vir Gugu gedoen omdat sy haar geloof in Hom geplaas het. In Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Wat is jou krisis vandag? Mag ons soos Gugu onverskrokke ons geloof in Hom plaas terwyl ons op ons deurbrake wag. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U elke gebed wat ons bid hoor. Versterk asseblief my geloof en red my van my ongeloof. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
· Sien foto van Gugu by www.benescke.co.za, https://www.facebook.com/storiesvanhoop/ of https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
· Benescke Janse van Rensburg se nuwe boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
· Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.