AG 10: HY IS STÉÉDS BETROKKE IN DIE DETAIL VAN ONS LEWENS - 12 Februarie 2021
Deur Benescke Janse van Rensburg
God is die Skepper van die Heelal. Hy hou die son, maan en sterre in sy hand en Hy bepaal ons toekoms. Tog, stel Hy ook belang in die detail van ons lewens. Dít is wat ek die week beleef het.
Vir weke reeds soek ek na ’n stel oorfone en ’n spesifiek sonbril van my. In ’n poging om dit te probeer opspoor, het ek reeds die huis van hoek tot kant omgedolwe, my handsakke gefynkam en selfs ’n beloning uitgeloot aan die gesinslid wat enige van die twee artikels opspoor. Alles sonder sukses.
Dinsdagoggend besluit ek om vir oulaas ons bed weg te skuif en te kyk of dit nie dalk agter die bed ingeval het nie. Daar was niks daar nie. Sommerso met die terugskuif van die bed, was my gebed: “Vader God, ek weet dat U weet waar die bril en oorfone is. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om dit op te spoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.” In my hart was daar geen twyfel dat God weet waar dit is nie.
Sowat ’n uur later moes ek en my kinders winkel toe ry. Een van hulle was oortuig dat haar verlore plakkie onder die motor se sitplek ingeskuif het. Die oomblik toe ek die sitplek vorentoe skuif, het ek amper na my asem gesnak. Langs die plakkie het my sonbril gelê! Uit pure opgewondenheid het ek hardop gesê: “Kyk nou hier! Net ’n uur terug vra ek vir God om my te help soek en hier is my sonbril. Nou kort ek nog net my oorfone!”
Twee tot drie ure later was my kinders aan die speel toe ek vinnig iets uit my handsak gaan haal wat naby hulle staan. My hand was skaars in die handsak toe my oog die wit houertjie vang met die oorfone in – op die plek waar ek al telkemale sonder sukses gesoek het! Ek kon my oë nie glo nie. Selfs my kinders was opgewonde oor dié praktiese demonstrasie dat geloof en gebed werk!
Ek hou van hoe God in 1 Kronieke 29:11 beskryf word: “Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe.” En dan lees ons in 2 Kronieke 16:9: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”
Soms voel ’n situasie te “onbelangrik of selfs belaglik” om God daaroor te raadpleeg. Die waarheid is egter dat sy hand beweeg word deur ’n hart vol geloof. As iets vir ons belangrik is, is dit vir Hom belangrik omdat ons vir Hom belangrik is.
God is groot. Hy beskik oor al die wêreld se krag, roem, glans en majesteit. Hy regeer oor alles. Tog het Hy tyd uitgeneem om my te help soek na iets so “onbelangrik” soos ’n sonbril en oorfone!
Kom ons plaas ons geloof en vertroue opnuut in God. Hy is immers stééds betrokke in die detail van ons lewens. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in my lewe belangstel en dat geen uitdaging of gebed ooit vir U “belaglik of onbelangrik” is nie. Help my vandag met (noem jou behoefte). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
· NUWE BOEK: Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
· Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.