DAG 8: IS DAAR NOG GIF BINNE JOU? - 10 Februarie 2021
Deur Benescke Janse van Rensburg
Aan die begin van Januarie is Elné Erasmus (21) deur ’n Mosambiekse spoegkobra op haar ouers se plaas in Thabazimbi aan die hand gebyt. Sy was besig om klere uit haar kas te haal toe die slang toeslaan.
Nege dae ná die voorval het dokters vir Elné geopereer om dooie weefsel aan haar hand en arm te verwyder. Hulle hoop was dat die gif teen dié tyd reeds uitgewerk sou wees. Dít was nie. Verlede week was dit drie weke sedert die slangbyt en Elnése se veloorplantingsoperasies moes weer uitgestel word aangesien daar steeds gif binne haar liggaam was.
Elné se storie het my laat dink aan ’n ou, maar effektiewe strategie wat die vyand in ons lewens gebruik om te verhoed dat ons ’n lewe in oorvloed smaak: Onvergewensgesindheid.
Wanneer iemand ons seermaak of te na kom, is dit soos die slang wat ons byt en gif aan ons binneste vrylaat. As ons vinnig vergewe en vryspreek, is dit soos ’n “teengif” wat toegedien word. Wanneer ons egter in ons seer kies om nie te vergewe nie, sit ons woede om in ’n onvergewensgesindheid, bitterheid en selfs haat. Hierdie dinge versprei mettertyd soos die gif na elke faset van ons lewens.
In Matteus 6:14-15 sê Jesus: “As julle andermense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” Ook in Efesiërs 4:26-27 staan geskryf: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, enmoenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Hoekom moet ons nie kwaad gaan slaap nie? Want môre gaan dit moeiliker wees om te vergewe en die dag daarna selfs nog moeiliker. Dít terwyl ons beroof word van ons vrede en vreugde en ’n lewe in oorvloed. Dit is waar die vyand ons immers wil hou.
Is daar iemand in jou lewe wat jy moet vergewe? Jou huweliksmaat? Jou skoonma? ’n Kollega? ’n Broer? ’n Voormalige beste vriend of vriendin? Kom ons vra God om ons in staat te stel om te vergewe en vry te spreek. Dít is die teengif. Kom ons kies ook om nie langer kwaad te gaan slaap en vir die vyand daardie vatkans te gee nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my vergewe wanneer ek oortree het. Help my asseblief om(noem die situasie) te vergewe en vry te spreek. Beskerm asseblief my lewe deur enige “gif” wat die vyand daar wil hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Sien foto van Elné Erasmus bywww.benescke.co.za, https://www.facebook.com/storiesvanhoop/ of https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
Benescke Janse van Rensburg se nuwe boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.