Hennie Symington 

Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ʼn aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as die wat velore gaan. 2 Korintiёrs 2:14(b)-15
 
Is dit nie ʼn absolute vreugde om deur ʼn tuin te stap en die geur van die blomme te ruik nie? Maar het jy geweet dat jy ook ʼn spesifieke geur saam met jou dra ongeag die parfuum of naskeermiddel wat jy soggens op jou spat. Vir die wat op soek is na Christus as waarheid, is dit ʼn geur van lewe en nie die dood nie.
 
Ons moet die geur van Christus saam met ons dra waar ons ookal gaan: by die werk, in die gemeenskap en by sosiale geleenthede. En veral tuis tussen jou huismense. En as jy jou geur op ʼn sinvolle manier versprei hoef jy nie daarmee te koop te loop nie. Jou geur sal onmiskenbaar wees in enige geselskap deur die manier waarop jy met mense omgaan en jou werk doen. Dit sal sigbaar wees in jou gesprekke en jou optrede. Selfs by die werkplek tussen ʼn verskeidenheid mense, elk met sy of haar opvattings en sensitiwiteite oor geloof.
 
Wees egter daarop bedag dat jou geur vars en eie aan die aroma van Christus moet bly ongeag waar jy beweeg. 

Gebed: Here, die geur wat ek versprei, is nie altyd een wat mense herinner aan nuwe lewe en groei nie. Vul my met die teenwoordigheid van die Heilige Gees sodat my lojaliteite onmiskenbaar is. Amen