Hennie Symington 

Iemand saai die saad op die land … en die saad ontkiem en groei – hoe weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort … Markus 4:26-29
 
Jesus het graag van vergelykings en metafore wat met plante, vrugte, die oes en die saaier gebruik gemaak om die werking van die koninkryk te illustreer. Die van ons wat dit geniet om in die grond te grawe en plantjies te koester en te kyk hoe hulle groei raak sommer maklik moedeloos as daar geen teken van groei is nie. Terwyl die wat nie sulke toegewyde tuiniers is nie en as’t ware gods water oor gods akker laat vloei, soms verras is om te sien hoe die plante in ons tuin floreer ten spyte van ons ongeёrgdheid.
 
Wat van die koninkryk, God se tuin? Het Hy ons rêrig nodig om sy koninkryk te laat groei? Watter verskil maak ons aan sy tuin? Ons skaam ons soms oor ons argeloosheid in ons manier van omgaan met die mens en sy omgewing, tog groei die oes sonder die boer se ingrype wat ons leer dat God sy doelwit bereik selfs wanneer ons nie betrokke is nie, of ongeёrg is oor wat Hy doen. Die doelwit is die ryp graan. En op die aangewese tyd sal die Woord vrugte voortbring en die “Here aan wie die oes behoort” sal verheerlik word.
 
Die wyse waarop God sy Woord stuur om in die harte van mense te groei is ʼn misterie en nie afhanklik van menslike inspanning nie. Laat ons dan getrou die saad saai, terwyl ons bid vir die oes en die opbrengs van die oes oorlaat aan die Here. 

Gebed: Here U weet waarvan ons gemaak is. U weet dat ons nooit uit eie krag u koninkryk kan laat gedy nie. Tog maak U ons deel van daardie koninkryk omdat ons u geliefde kinders is. Amen