Hennie Symington 

Elke loot in my wat nie vrug dra nie sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg sodat dit nog meer vrugte kan dra. Johannes 15:2
 
Die Japannese boomsnoeiers is iets om te aanskou. Voor daar aan ʼn boom gesnoei word moet die seisoen eers in ag geneem word. En as die tyd reg is, word die boom met die uiterste sorg gesnoei. Elke takkie en elke blaartjie word sorgvuldig geweeg en bekyk binne die geheel. Maar wanneer die meestersnoeier se werk klaar is, kan die boompie die wêreld weer met trots in die oё kyk.
 
Soms het elkeen van ons ʼn behoorlike snoei nodig. Ons lewe lewens van oordaad. Ons eet te veel, praat soms te veel (meestal oor onsself!); sommige drink te veel maar meestal verberg ons ons eie klein sondetjies tussen die blare van ons geestelike tuintjie.
 
Weer eens is dit die Woord wat ons ʼn les in tuinbou gee. Snoei is ʼn noodsaaklike deel van tuinmaak. Ons sukkel almal met ʼn paar diepgekoesterde (en geheime) sondes soos onredelike jaloesie, oneerlikheid, oormatige woede, afguns, haat, inhaligheid, wellus – noem maar op. Om gesnoei te word is een van daardie pynlike oefeninge wat ons liewer wil vermy. In Johannes 15:2 word ons egter daaraan herinner dat snoei vrugbaarheid vermeerder: "Elke loot in My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra."
 
Dit klink na ʼn harde uitspraak maar dit gaan gepaard met God se trou. As die meestersnoeier sny God met wysheid en insig omdat Hy weet waarvan ons gemaak is, en waartoe ons in staat is. Hy snoei ons met die oog op ʼn baie meer vrugbare lewe. Moet dus nie wegskram vir die snoeiskêr nie. Wees eerder dankbaar daarvoor.
 
Gebed: Here maak my ʼn snoeibare boom. Laat my nie wegskram van die pyn wat gepaard gaan met snoei nie want wanneer u handewerk in my klaar is, kom my ware skoonheid na vore. Amen