Hennie Symington

Hulle vra toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo. Wat gaan u doen? Johannes 6:30

Mense hou van wonderweke en verhale oor wonderwerke en dikwels dink ons: As God almagtig is, dan is wonderwerke mos tweede natuur by hom. Wat van jou? Dikwels verwag ons ʼn vinnige wonderwerk of ʼn demonstrasie van die bonatuurlike of ʼn klein gelukkie om ons alledaagse probleme op te los. Aan die anderkant skiet ons verwagting dat God mense se lewens of ʼn samelewing handomkeer kan transformeer, ver te kort.

Natuurlik kan God wonderwerke doen maar dis nie hoe God werk nie. God verkies om ons te versterk om sinvol en volwasse met die lewe te kan omgaan en sy krag in ons te vervolmaak. Dink maar aan Paulus wat gevra het om verlos te word van die doring in sy vlees, maar daarmee saamgeleef het en daarby ʼn wonderbaarlike skat vir die mensdom in die vorm van al sy sendbriewe nagelaat het. Wanneer God dus ʼn profetiese boodskap van hoop en herstel aan ons stuur, behoort ons daarvan te getuig.

In ons soeke na wonderwerke kyk ons dikwels die grootste wonderwerk van alle tye mis. En dit is dat ons God ontmoet – nie as ʼn wese “daarbo” nie maar as ʼn liefhebbende hemelse Vader wat sy Seun Jesus Christus as die Waarheid, die Weg, en die Lewe gestuur het om by ons te wees. Dit is die wonder van Jesus se geboorte – dat God mens geword het om die bitter brood wat ons as mense elke dag moet eet, te proe. Hy het geword soos ons, sodat ons uiteindelik soos hy kon wees.

Gebed: Here, ek erken dat ek soos die meeste mense smag na ʼn wonderwerk om my lewe uit te sorteer en makliker te maak. Dankie dat U u Seun gestuur het om ons te wys dat U daar is en hoeveel U vir ons omgee. Dankie dat ons kan uitsien na die herdenking van die geboorte van u Seun en ons geloof kan versterk deur die een wonderwerk wat nooit eindig nie: God as mens; God by ons. Amen