Hennie Symington

… want ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie;  Ek was dors, en julle het my niks gegee om te drink nie … Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie. Matteus 25:42-43

Die afgelope jaar was nie ʼn goeie jaar vir die wêreld nie. Die uitdaging aan gelowiges raak met die dag groter. Wat word van ons verwag in ʼn wêreld waar alles besig is om skeef te loop en die nood by die dag groter raak? Dalk sal die volgende aanhaling ons vir ʼn oomblik laat stilstaan en dink oor die nood van mense: 

Ek was honger

en jy het ʼn menseregtegroep gestig om dit te bespreek.

Ek was in die tronk

en jy het saggies gebid vir my ontslag.

Ek was nakend

en in jou gedagtes het jy gewonder of ek ordentlik genoeg was vir die kerk.

Ek was siek

en jy het God op jou knieё gedank vir jou gesondheid.

Ek was eensaam

en jy’t my alleen gelos om vir my te bid.

Jy lyk so heilig, so naby God

maar ek is steeds baie honger – en eensaam en koud. (Anoniem)

Om aandag te skenk aan die verdruktes, die gebrokenes, die gevangenes is ‘n onmisbare deel van ons voorbereiding vir die koms van die Here. Sodra ons vergeet dat alle mense na die beeld van God geskape is en nie net siele of liggame is nie, vergeet ons van die mens agter die nood. Maar as ons ons naaste liefhet, kan ons nie anders as om begaan te wees oor hulle nie. In die Christelike geloof is dit mense wat tel. Elke mens het ʼn onvervreembare waarde as mens. Man, vrou, en kind is almal na die beeld van God gemaak. As jy dit glo, op watter manier maak jy dit sigbaar in jou lewe?

Gebed: Here, soms raak die nood van die mensdom vir my net te veel. Tog vra U van my om empatie te hê met mense in alle omstandighede want U het gekom om almal onder u vlerk te neem. Kom my onvermoё tegemoet met u omarmende liefde. Amen.