Vers n dag - 7 November 2011
Met Christus in Jou Seisoene: Waarom besorgd en bekommerd?
Carina Francke
Skrifgedeelte: Luk 10:38-42
Met Jesus se kuier by sy vriende se huis, is Martha sonder ophou besig om alles reg te maak terwyl haar suster rustig sit en luister na Jesus. Toe Martha by Jesus hieroor kla, antwoord Hy haar: "Marta, Marta, jy is besorgd en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie."
Jesus druk sy vinger op Marta se probleem met hierdie opmerking – sy is te besig. En die gevolg? Bekommernis en besorgdheid oor allerhande dinge. Hiermee sê Hy nie dat 'n mens passief moet wees en niks doen nie, maar eerder dat jy fokus op die belangrike ding(e) – die dinge wat ewig deel van jou lewe bly. Baie (minder belangrike) dinge lei tot besorgdheid en bekommernis.
Ons kan so 'n lewe vergelyk met 'n leesstuk sonder enige leestekens en spasies. So 'n stuk is net 'n deurmekaar klomp letters wat moeilik lees en wat die ware betekenis van sinne en frases laat verlore gaan. Baie van ons se lewens lyk ook so. Bekommernis oor finansies, werk, rebelse kinders, 'n huwelik en besorgdheid oor jou oudag, die toekoms, jou gesondheid, eensaamheid en...en...en ontneem jou van die "beste deel", naamlik om in Sy teenwoordigheid te kuier.
Bekommernis en besorgdheid kan ook beskryf word as angstigheid, waarvan die Griekse betekenis dui op verdeeldheid of aandag wat afgetrek is. Voeg hierby die Latynse betekenis van verstikking of verwurging, en ons verstaan skielik die rede vir Jesus se vermanende woorde aan Marta. Hy wil keer dat haar aandag afgetrek word deur dinge wat haar kan verstik. Jy sien, bekommernis en besorgdheid gooi die kollig op die mens se siening en dit verwurg die goddelike. Die noodwendige gevolg is vreesagtigheid. Dit verwurg verder ook ons vermoë om te onderskei tussen die noodsaaklike en die insidentele. Die gevolg? Ons verloor fokus; ons aandag word afgetrek van dit wat noodsaaklik is.
In jou en my lewe behoort Jesus die fokus te wees – soos vir Maria. Gebed, die lees van die Woord en luister, plaas kommas, punte en spasies in ons lewens. Ons by-Hom-wees is die beste deel wat ons kan kies. Dit gee perspektief en sin aan ons lewens.
By Hom word ons besorgdheid en bekommernis verander in die vrede van God wat oor ons harte en gedagtes die wag hou (Fil 4:7)....al verander ons omstandighede nie onmiddellik nie.
Gebed: Dankie dat U die beste deel is wat ek kan kies, daarom wil ek my lewe "leesteken" deur tyd in U teenwoordigheid te spandeer. Ek weet dat dit wat ek daar by U leer nooit van my weggeneem kan word nie. Herinner my asseblief hieraan in die tye wat besorgdheid en bekommernis my lewe wil beheer. Amen