Vers n dag - 8 November 2011
Met Christus in Jou Seisoene: Eensaamheid
Carina Francke
Skrifgedeelte: 2 Timoteus 4:16,17: Psalm 27:10,13,14
Min emosies is seker pynvoller as eensaamheid en niemand is daarvan gevry= waar nie. Dink maar aan die pyn wanneer jy ’n geliefde verloor, die geïsoleerdheid van die gevangene, die verlange na kinders of vriende wat ver is, jou onrustige alleen-nagte, of die benouende gevoel as sekere dae of feestye van die jaar aanbreek.
As jy so voel, is jy in goeie geselskap: Dawid het dit ervaar: “Want my vader en my moeder het my verlaat....”(Ps 27:10); Paulus het dit beleef: “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat.”(2 Tim 4:16) en ja, selfs Jesus het dit aan die kruis ervaar: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”(Markus 15:34).
Baie belangrik egter, is dat nie een van hierdie drie mense te lank in hulle eensaamheid sit en prut het nie. Hulle het geweet waar die antwoord lê – in die trou, goedheid en hulp van God. Dawid weet dat ten spyte van sy ouers wat hom verlaat het, God hulle plek sal inneem. Hy praat homself dus moed in: ....maar die Here sal my aanneem. O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie... Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees!” (Ps 27:10b,13-14 ).
Paulus getuig van God se hulp in sy eensaamheid terwyl hy in die gevangenis sit: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee...”(2 Tim 4:17). Jesus bely in die kake van die dood hardop Sy vertroue in Sy Vader: “Vader, in u hande gee Ek my Gees oor!” (Luk 23:46)
Jou vertroue en geloof in die Here se teenwoordigheid by jou, is dus die eerste en belangrikste manier waarop jy eensaamheid kan hokslaan.
Paulus se brief aan Timoteus lig egter nog maniere uit. Hy wil tyd belê met intieme vriende, daarom versoek hy Timoteus om tog gou na hom te kom, maar dat hy Markus ook moet gaan haal en hom saambring as hy kom om hom te besoek (v9,11). Saam met Lukas was dít die manne met wie hy aanklank gevind het, wat hy in sy vertroue kon neem en wat hom kon vertroos in sy eensaamheid.
Paulus versoek egter ook dat hy die boeke moet saambring en veral ook die perkamente. Volgens die Skrifverklaarders is dit moontlik kopieë van die Hebreeuse geskrifte waarvoor hy gevra het. Paulus wil tyd spandeer in die Woord en krag daaruit put terwyl hy alleen in die gevangenis sit en wag op sy dood. Hoor jy dit? Selfs wagtend op die dood het hy nie toegelaat dat eensaamheid die oorhand kry nie!
Jy kan iets aan jou eensaamheid doen: weet dat die Here jou kan aanneem, nooi intieme, goeie vriende uit om by jou te kom kuier, of gaan kuier jy by hulle; lees opbouende en verrykende boeke, maar verdiep jou veral in die lees van die Bybel. Op dié manier kan eensaamheid as katalisator dien om positiewe veranderinge in jou lewe teweeg te bring.
Gebed: Dankie Vader, dat selfs eensaamheid vir my ten goede kan meewerk. Help my om dit nie as ’n put te sien waarin ek vasgeval het nie, maar as ’n geleentheid om na ander uit reik. Alleen kan ek dit egter nie doen nie – help my asseblief om bo dit uit te styg. Amen.