Vers n dag - 4 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Behou Jou Vrede
Carina Francke
Skrifgedeelte: 2 Tim 2:22; Kol 3:15; Fil 4:6,7
Die menslike begrip van vrede is die afwesigheid van konflik. Vir die gelowige is vrede egter 'n vaste vertroue ongeag omstandighede, want met Christus se vrede het ons nie nodig om die hede of toekoms te vrees nie. Die ooreen= stemmende Hebreeuse woord is "shalom" en dui op heel, vol, afgehandel.
Ons het gister gepraat oor Jesus se vrede wat 'n gegewe in die gelowige se lewe is (Joh 14:27), maar ons weet dat dinge gebeur wat ons vrede "steel". Miskien is steel nie die regte uitdrukking nie, maar eerder dat ons dit nie met elke greintjie van ons menswees bewaak nie.
Die vraag is dan: Hoe behou die gelowige sy vrede?
Praat met jouself: "Vertrou op God! Hoop op God! Hy is my Helper en my God!(Ps 42:6).
Streef daarna: "Vermy die begeertes wat 'n jongmens in gevaar bring, streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede saam met almal wat uit 'n rein hart die Here aanroep." (2Tim2:22. ) Die "behou" van jou vrede gebeur nie vanself nie, jy moet dit nastreef, najaag, agternaloop. Uit die teksvers wil dit my egter voorkom dat jy dit vanuit 'n rein hart moet doen. Hierdie rein verwys na onbevlektheid, nie besoedel nie, skoongemaak ten opsigte van 'n morele en etiese leefwyse. Dit impliseer dat ek en jy deur ons leefwyse kan toelaat dat Jesus se vrede opsygeskuif word vir onvrede. Die skrywer besef egter ons onvermoë om dit alleen te doen, daarom beveel hy aan dat ons die Here moet aanroep en dit nogal saam met ander mense wat ook rein van hart is.
Laat dit in jou hart heers:"En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers...." (Kol 3:15) Die NAV lees dat die vrede wat Christus gee in ons lewens die deurslag moet gee. Vrede tree dus soos 'n skeidsregter op in elke saak in jou lewe, asook in jou verhouding met God, jouself en jou medemens. Ek en jy weet dat 'n skeidsregter nie vir een oomblik sy oë van die spel mag afhaal nie......jy en ek ook nie van dit wat in ons lewens gebeur nie!
Bid en wees nie besorg nie: Ons het gister gelees wat ons erfenis en geskenk van God is:"My vrede gee Ek aan julle...laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie".(Joh 14:27). In 'n ander gedeelte word ons ook gemaan om oor niks besorg te wees nie, maar dat ons "alles deur gebed en smeking met danksegging bekendmaak by God"(Fil 4:6) En dan volg die belofte: "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."
Wil jy nie maar besigheid begin meen met jou erfenis van vrede nie? Dit is 'n geskenk, maar ek en jy moet daaraan werk om dit aktief in ons lewens te hou.
Gebed: Vader, so dikwels ervaar ek nie U vrede nie. Ek bely dat dit niks met U onbetrokkenheid in my lewe te doen het nie, maar met my onvermoë om dit te beskerm omdat ek so dikwels toelaat dat 'n onrein hartsgesindheid my lewe beheer. U weet van elke besorgdheid en stuk onvrede in my hart. Sal U my help om dit te hanteer, want U vrede is vir my so kosbaar. Amen