Vers n dag - 3 November 2011
Saam met Christus in jou Seisoene: Vrede as geskenk en erfporsie
Carina Francke
Skrifgedeeltes: Luk 2:14; Joh 14:27; Psalm 42:1-12 (NAV)
By Jesus se geboorte prys die engele God en verklaar: "..vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het" (Luk 2:14). Jesus verklaar voor Sy kruisiging aan sy dissipels: "Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle....Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie." (Joh 14:27)
En tog is dié gawe van vrede baie dikwels nie in alle gelowiges se lewens sigbaar nie. Trouens, hulle leef en voel asof hierdie geskenk nie ook aan hulle gegee is nie! Die Psalmis verwoord hierdie gebrek aan vrede in Ps 42:6: "Wat buig jy jou neer, o my siel, en is jy onrustig in my?" Die NAV beskryf dit so: "Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?"
Dit is verblydend dat die Psalmis se selfondersoek oor sy onrustigheid en onvrede hom uitbring by die redes daarvoor. Mense rondom hom bevraagteken die bestaan van sy God (v4,10); Hy was vroeër die voorganger in gejuig en lofsang wanneer hy die skare na God se huis gelei het (v5); maar hy sit nou vol vertwyfeling op 'n plek waar golf na golf oor hom slaan (v8). Uit sy vraag aan God waarom Hy hom vergeet het en waarom mense hom laat swaarkry (v10), is dit amper asof Hy God die skuld vir sy onvrede wil gee.
Dit is duidelik dat die skrywer 'n intense verlange en behoefte na die teen= woordigheid van God het, maar dat omstandighede en mense sy belewenis daarvan doodskree. Hy fokus op die dinge wat nie kan wees nie, op die dinge wat was en wat hy nou as sleg ervaar. Omdat God getrou is, mymer hy oor wat hy sal doen – Hy sal weer (eendag) vir God selfs in die nag 'n loflied en 'n gebed kan sing.
Te midde van hierdie onvrede met homself, praat en bemoedig die Psalmis homself: "Vertrou op God! Hy is my helper en my God!"(v6) en kry dit reg om te midde van sy stryd, lewe oor homself te spreek.
Jesus het 'n verklaring van vrede in jou en my lewe gemaak; Hy het dit verorden, Hy het dit geskenk en niemand kan enigiets daaraan verander nie.....tensy ek en jy toelaat dat omstandighede dit verander na onvrede.
As jy vandag soos die Koragiete in hierdie Psalm in nood verkeer, vol twyfelvrae is en slegte omstandighede ervaar, wil ek jou herinner aan Jesus se woorde, maar in omgekeerde volgorde: "Laat jou hart nie ontsteld word en bang wees nie. Vrede laat Ek vir jou na, my vrede gee Ek aan julle...."
Gebed:
Hemelse Vader, dankie vir vrede – U vrede – wat U aan my gegee het. Te dikwels laat ek toe dat my eie vertwyfeling, bekommernis en onstuimige hart die vrede wat Jesus in my hart bewerk het, op die agtergrond skuif. Ek wil in sulke tye onthou en vir myself sê: "Vertrou op God, Hy is jou Helper, die Een op wie jy kan vertrou!" Help my om dit te onthou asseblief? Amen.
Môre gaan ons kyk hoe ons ons vrede kan behou.