Vers n dag - 2 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Hy het jou kom posisioneer.
Carina Francke
Skrifgedeelte: Jes 61: 6-11
Ons het gister gepraat oor wat Jesus alles vir ons kom doen het toe Hy mens geword het: Hy het gekom sodat ons heel mense kan word na gees, siel en liggaam. Maar dis nie al nie, Hy het dit moontlik gemaak dat ons kinders van God kan word wat met vrymoedigheid na Hom kan gaan – ten spyte van onsself en ten spyte van ons omstandighede. "Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered of gehelp kan word (Hebr 4:16 NAV & OAV). Hy noem ons dan ook Bome van Redding (Jes 61:3) – Hy het ons immers geplant! Jy weet tog dat 'n boom wat goed geplant is, met sy sterk wortelstelsel hoog groei en vasstaan op sy groeiplek! Waarom twyfel en vrees ons dan so dikwels?
Daar's egter meer. Lees wat verder oor ons in Jesaja 61: 6 geskryf word: "Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God." Dieselfde gedagte kry ons in 1 Petr 2:9: "Julle is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die (Sy) verlossingsdade moet verkondig... Besef jy die implikasie hiervan? Ons is in Sy diens om Sy werk op aarde te doen in 'n posisie waarvoor ons nie aansoek gedoen het nie!
In hierdie hoofstuk is daar ook sekere beloftes wat aan ons as plantings van God gemaak word. Ons sal instrumenteel wees om puinhope, verlate en verwoeste plekke op te bou, maar daar sal ook vir ons genoeg wees om van te leef. Ons sal lof ontvang en ons sal altyd vreugde hê (omdat God vir ons sorg). Inderdaad het die beloftes veral met die tydelike middele te doen, maar dit het ook betrekking op ons werk as priesters en dienaars wat in ons omgang met mense, daagliks te doen kry met vereensaamdes en diegene in sak en as.
Dalk voel jy nie vandag om te juig nie, maar beleef 'n vreugdelose, hooplose, uitsiglose dag. Dan wil ek jou aanmoedig om hardop te bely en te glo wat profeties van Christus in Jesaja 61: 10 gesê word: "Ek is bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos 'n bruidegom met 'n priesterkroon op, soos 'n bruid met haar juwele aan."
Gebed: Hemelse Vader, ek loof U dat ek nooit skaam of bang hoef te wees om met U te praat nie, want Jesus se lewe het dit vir my moontlik gemaak. Ek juig oor die opdrag dat ek U dienaar en priester kan wees en ek jubel oor die wete dat ek 'n oorwinnaar is – ongeag watter struikelblok op my pad geplaas word! Amen.