Vers n dag - 1 November 2011
Met Christus in jou Seisoene: Hy het vir jou gekom
Carina Francke
Skrifgedeelte: Jesaja 61:1-2
Die uitpak van kersversierings in die winkels is 'n aankondiger dat die Feesseisoen op hande is. Dit stoot 'n deur van positiewe afwagting in mense se lewens oop, maar nie noodwendig altyd omdat dit 'n viering van Christus se aarde-toe-kom is nie. Vir meeste mense is 'n welverdiende vakansie nou deur die oopgestote deur in sig, of die vreugde om saam met bekendes en families deur te bring, of om geld uit te gee sonder om daaroor te tob. Maar dan is daar ook diegene vir wie kersversiersings, -liedere en die gees van afwagting soos 'n swaar klip in hulle harte kom lê. Vir hulle staan hierdie tyd in skrille kontras met hulle eie lewensomstandighede, want dié spreek van min vreugde en uitsien na môre.
Saam gaan ek en jy hierdie maand delf vir Skrifgedeeltes wat die ware betekenis van die Kersseisoen weer 'n realiteit vir ons sal maak, wat 'n simfonie in ons harte sal komponeer en wat in ons lewens weer 'n stuk hoop van Sy teenwoordigheid in elke omstandigheid van ons lewens kom losbreek.
Net Hy kan dit doen.....as jy Hom glo en ter harte neem wat Hy sê. Hoor wat sê die Woord profeties oor Hom:
"Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om 'n blye boodskap te bring aan die mense in nood (armes of ootmoediges), Hy het my gestuur om te verbind die gebrokenes van hart (moedeloses) om vir die gevangenes 'n vrylating uit roep en vir die geboeides (gevangenes) opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae (genade) van die Here....om al die treurendes te troos en ....te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as (eer in plaas van smart), vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees. Jes 61:1-3
Hoor jy wat het Jesus vir jou kom doen? Wat Hy kom verander het? Hy het 'n antwoord nie net vir jou armoede na die fisiese nie, maar ook vir jou armoede aan Sy teenwoordigheid, vreugde en mense wat vir jou omgee. Hy wil jou stukkende en moedelose hart heelmaak en die kettings van eensaamheid, minderwaardigheid en bitterheid stukkend breek. Hy wil jou in jou eensaamheid en hartseer troos en op 'n plek van eer vertoon. Hy wil jou aantrek met 'n toemaakbaadjie van lof en olie.
Hy wil aan jou genade bewys!..... As jy waag om dit te glo en jou eie te maak, wag daar hierdie feesseisoen vir jou 'n vreugdetyd van wonderwerke!
Gebed: Dankie Here dat U vir my gekom het. Dankie dat U klippe in my lewe stukkend breek en dat dit wat U vir my beplan, 'n lewe van opwinding, heelword en genade saam met U inhou. En as ek vergeet, help my tog net om te onthou dat U groter is as enige krisis of omstandigheid waarin ek my mag bevind. Amen.