Ewald Schmidt

“Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. Ontvang hom met oop arms as 'n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.” Filippense 2:25-30

Van die eerste eeu af was die manier waarop die Here sy kerk verder uitgebou het, deur doodgewone, Geesvervulde gelowiges te gebruik as sy medewerkers. In Filippense 2 lees ons van twee manne wat Paulus bygestaan het onder huisarres. Een is baie bekend, ons het twee briewe van Paulus aan Timoteus in ons Bybel. Die tweede een: Epafroditos.

In Rome moes die familie gevangenes versorg, en kos gee. Die Ryk kon dalk net vergeet van iemand, en hom van die honger laat doodgaan. Die gemeente in Filippi hoor van Paulus se nood. Hulle stuur Epafroditos na Rome toe, om hom te gaan help.

Ons lees hierdie gedeelte so maklik mis in ons Bybels. Filippi is 1 000 km van Rome af soos die kraai vlieg. Padlangs, wanneer 'n mens loop, is dit 1600 km ver. Kom ons plaas dit in perspektief. Die Franse roete van die Camino in Spanje is 790 km, as jy fiks is doen jy dit in ses weke. Dubbel die afstand – ten minste 12 weke se stap! Een rigting. Epafroditos het na baie ontberinge in Rome aangekom, en het Paulus baie gehelp. Maar hy het daar siek geword en by die dood omgedraai. Hy was dalk nog baie jonk, en het baie huis toe verlang. Daarom stuur Paulus hom terug. Hy het sy sending voltooi, en vir Paulus baie beteken. Hoekom staan hierdie antieke stukkie geskiedenis in ons Bybel? Almal onthou vir Timoteus, byna niemand ken die naam Epafroditos nie. Maar die Here bou sy koninkryk met die onbekende mense, wat so graag hulle deel wil doen vir die Here. Hulle kry nie altyd erkenning nie. Hulle is nie altyd in die kollig nie. Maar sonder hulle sou die kerk van Jesus nie so ver gevorder het, en so baie kon doen nie.

Ek en jy voel dalk ons kan net 'n klein bietjie beteken vir die koninkryk met dit wat ons het. Onthou: God maak ons gewillig en bekwaam! (Filippense 2:13) Jou bietjie in God se hande word 'n reuse bydrae. Dalk roep die Here jou nie om ses maande te reis om 'n brief te gaan aflewer nie. Maar dit wat jy met jou gawes en talente kan doen, maak 'n verskil!

Gebed: Here, baie dankie dat U mense soos ek in u diens gebruik. Dankie dat U ons gewillig en bekwaam maak, en dan geleenthede gee om U te dien. Help ons om te onthou U bou u koninkryk met mosterdsaadjies. Hier is ek, Here, gebruik my! Amen