Ewald Schmidt

“As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte 'n Israeliet, uit die stam Benjamin, 'n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek 'n Fariseër, in my ywer 'n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde … “ Filippense 3:4-8

In Filippi was 'n groepie gelowiges uit Joodse agtergrond. Hulle het in Jesus begin glo as die Messias, maar van die nie-Jode in die gemeente verwag om besny te word en die wet van Moses met al die reinheidsvoorskrifte na te kom. Dit het groot spanning en ongelukkigheid veroorsaak. Hierdie mense het Paulus se weergawe van die evangelie verwerp, hulle wou die genade van God met die wettiese godsdiens van die Fariseërs vermeng. Dit is daarom dat Paulus dan sy eie Curriculum Vitae so uitspel: Hy is gekwalifiseerd om te sê wat hy vir die gemeente geleer het.

Paulus se CV is onberispelik vir destyds in Joodse geledere. Hy was 'n egte Hebreër, uit die stam van Benjamin. Hy is besny, as verbondskind onder die Abrahamitiese verbond. Hy was 'n Fariseër – elders lees ons 'n leerling van Gamaliël, een van die heel bekendste rabbi’s van die tyd. Hy het baie hard gewerk daaraan om die wet te onderhou om vryspraak te kry. Hy was dus baie godsdienstig, maar het Jesus nog nie geken nie, en sy kerk probeer uitroei. So dikwels is dit ons lewensverhaal, dat ons so baie insit om die regte kwalifikasies te kry, en soms is ons ook so ywerig in die saak waarvoor ons graag die vaandel dra.

Maar toe ontmoet Paulus die lewende Here Jesus op die pad na Damaskus (Handelinge 9). Hy het agtergekom die leer van sy sukses staan teen die verkeerde muur. Alles wat hy voorheen so fanaties oor was, was nou vir hom waardeloos. Die heel belangrikste saak nou in sy hele lewe sê hy in vers 8, is om Christus te ken. Daardie “ken” is nie net om van Jesus te weet nie. Dit is 'n diep, innige verhouding. Om jou lewenspad saam met die Here te begin stap. Dit het alles in Paulus se lewe verander. Dit sou hom baie ontberinge kos om Jesus te volg, die pad was nie maklik nie. Tog wou Paulus dit nie anders hê nie. Mag ons ook op hierdie fondament ons lewe bou: om Jesus te ken, oortref alles in waarde! Wanneer Hy my Here is, maak Hy my lewe nuut. Dan is daar sin en rigting in my bestaan. Dit verryk al die aspekte van my lewe, my huwelik, my ouerskap, die verhouding met my medemens, die manier waarop ek werk. In dit alles bring Hy vrede en blydskap in.

Gebed: Here, ons kan so besig wees om ons eie lewenspad te beplan. Mag ons soos Paulus langs daardie lewenspad ons Here Jesus raakloop, en mag ons koers daarvandaan getuig van 'n nuwe lewe, van dankbaarheid en vrede. Help my om vandag my lewe op u fondament te bou, Here Jesus. Dan bou ons saam vir die ewigheid. Amen