Ewald Schmidt

“Doen alles sonder kla of teëpraat. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God ten midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra …”  Fillippense 2: 14-16a

Ons is geroep om Jesus se voorbeeld te volg deur in hierdie wêreld te dien met ons gawes. God maak ons gewillig en bekwaam daartoe. Maar: dis nie so maklik nie! Weet Paulus hoe moeilik is die mensdom deesdae? Weet hy hoe hard het die mense se harte geword? Ag, as Paulus maar een van ons koerante kon lees, dan sou hy beter verstaan het …  En daar begin ons weer verskonings uitdink oor hoe rof die taak is, en hoe onbeskof die mense is.

Paulus leer my 'n belangrike les. Ek het nie beheer oor die omstandighede van die wêreld nie. Ek kan nie eens self iemand anders se houding bepaal nie. Maar ek het altyd 'n keuse hoe ek gaan optree, veral as ek onder druk kom. Paulus sê: Moenie kla nie! Kla het nog nooit iemand gehelp om enige situasie te verbeter nie. Kla gebeur gewoonlik hier binne in my, my gedagtes draai vas in die omstandighede wat ek sleg beleef. Jy het 'n keuse – jy bepaal of jy gaan kla, of iets gaan doen daaraan.  Wanneer Paulus sê: Moenie teëpraat nie, is die Griekse woord se betekenis: moenie 'n twismaker wees nie. Kla gebeur hier binne my, twis daar buite in die publiek. Party mense twis darem lekker onder die vaandel van Christenskap. Dit hoort ook nie so nie! Kyk na jou houding in die lewe.

As ons kla oor die ontaarde en korrupte mense rondom ons, het Paulus nie baie simpatie nie. Hy sê: Dan is jy op die regte plek! Onthou: Jesus het gesê: “Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.”(Matteus 5:13-14) Ons is juis nodig waar dit donker en ontaard is – daar maak ons 'n verskil tot God se eer deur anders te wees. Ons doen dit deur gehoorsaam te wees, en die Woord uit te leef in alles wat ons doen. Dan skyn Jesus se lig, en dan word God verheerlik deur ons lewens.

Gebed: Here Jesus, U het voor ons hierdie pad op aarde gestap. U weet beter as ons hoe korrup en ontaard die mensdom sonder U is. Maar U het ons in hierdie wêreld ingestuur om u lig helder te laat skyn, en vir mense u hoop te bring. Here, bewaar my daarvan dat ek die hele tyd loop en kla. Help my ook om nie 'n rusiemaker te wees met almal rondom my nie. Laat u Gees my so lei dat ek altyd met liefde en nederigheid dien en getuig van u liefde. Amen.