Ewald Schmidt

“Ek wil hê dat julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek 'n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om onbevrees die woord van God te verkondig.” Filippense 1: 12-14

Ons wil graag hoor hoe die Here ons gaan seën, hoe ons 'n oorvloedige lewe gaan lei, en altyd bo uitkom. Ons hou nie van swaarkry nie, en verwag dit nie as deel van die pad wat ons saam met die Here stap nie. Tog is ons bereid in die lewe om op te offer vir dit wat vir ons baie belangrik is. 'n Vrou gaan deur ongelooflike pyn om 'n kind in die lewe te bring, en tog sien hulle kans om dit te doen, uit liefde vir daardie kind. 'n Sportman of vrou gaan deur soveel opofferings en ontberinge om te reik na Olimpiese goud. Ek kan aan niks dink, wat die moeite werd is in die lewe, wat nie deur toewyding en opoffering kom nie.

Wat is ons geloofslewe vir ons werd? Wat is ons bereid om te doen vir Jesus? Paulus se woorde in sy briewe word ondersteun deur die getuienis van sy opofferings vir Jesus. Dit was vir hom nie net goedkoop woorde nie. Hy het die prys betaal om Jesus te dien. Lees dit gerus in Handelinge 21-28. Hy is in boeie in Rome, omdat hy in Jesus geglo het. Sy lewe is in gevaar. Tog kyk hy nie vas in die lyding nie, maar in die geleentheid. Hy is opgepas deur die keiserlike wag, en een van hulle is die hele tyd aan hom vasgeboei om hom te bewaak. Paulus sien 'n geleentheid. Terwyl die soldaat nou hier moet wees, vertel hy hom van Jesus. Wanneer die soldaat se skof verby is, word die volgende een aan hom vasgeboei, dan vertel hy hom ook van Jesus. Later het 'n hele klomp van hierdie top soldate in Jesus geglo, en deel van God se familie geword.

Omdat Paulus bereid was om op te offer, en te ly vir Jesus, was sy getuienis geloofwaardig. Dit het ander geïnspireer om voluit vir Jesus te lewe, en Hom te verkondig. So het die vroeë kerk in die eerste eeu baie vinnig gegroei. Mense glo wanneer iemand bereid is om op te offer vir wat hulle glo. Is jy ook bereid daartoe?

Gebed: Here Jesus, U het gely en opgeoffer sodat ek kan vry wees en lewe. U het my geroep om U te volg, selfs my kruis op te neem om agter U aan te kom. Dis die eis wat dissipelskap van ons vra. Maak ons bereid om op te offer en te ly, sodat die wêreld kan weet dat U die Here is. Laat my lewe getuig dat U waarlik Here is. Amen