Ewald Schmidt

“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” Filippense 1:9-11

Ons het besig geword. Ons dagboeke loop oor van so baie dinge wat elke dag gedoen moet word. Ons moet ons daaglikse brood verdien. Sommige van ons het kinders om te versorg. As hulle klein is, is dit al klaar 'n vol dagboek! Ons moet aandag gee aan ons fiksheid en gesondheid. Ons benodig so bietjie kulturele stimulasie. En dan wil ons in kontak bly met ons vriende, en in die aand darem 'n rukkie voor die televisie ontspan. Ons klim doodmoeg in die bed, en staan moeilik op in die oggend. Op 'n dag begin ons wonder: wat is ek besig om met my lewe te bereik?

Paulus het gister gesê God sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, voltooi. Hoe lyk daardie goeie werk? In vers 9 noem hy die enkele belangrikste woord in die kind van God se lewe. Liefde. Ons is gemaak om lief te hê. Om God met ons hele hart, siel en verstand lief te hê, en om ons naaste so lief te hê soos wat Jesus hulle liefhet. Liefde is die grootste gawe wat God ons ooit gegee het. Maar ons moet daarin groei, sê Paulus. Liefde moet toeneem. Daardie groei is ons verantwoordelikheid. Hoe groei dit? Wanneer daar begrip is – ons verstaan ons moet groei in liefde. En wanneer ons fyn aanvoeling ontwikkel. Liefde kom eerste. Wat vra liefde van my in elke situasie, in elke kontak met my medemens? Liefde is die groot gebod. 1 Johannes 3:23 het dit so verwoord: “En dit is sy gebod: ons moet in sy Seun, Jesus Christus glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.” Vir die nakoming van liefde staan ons verantwoordelik op die oordeelsdag. Alles anders in ons lewe is nie so belangrik nie!

Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir ons kom leer en wys het hoe ware liefde lyk. Dankie dat U Uself in my plek opgeoffer het, sodat ek die ware lewe kan hê. Daarom vra ek vandag: lei my sodat ek kan groei in begrip en fyn aanvoeling, dat ek soos U kan liefhê.  Amen