Ewald Schmidt

“Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my hoef te skaam nie. Ek wil nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins.” Filippense 1:20-21

Dit is wanneer mense tot die uiterste toe beproef word, wat hulle ware kleure uitkom. Die maskers val af in die aangesig van lewensgevaar. In sulke omstandighede gee 'n mens aandag aan dit wat vir jou die heel belangrikste in jou lewe is. Paulus is in huisarres in Rome. Die aanklag teen hom is dat hy oproer in Judea veroorsaak het deur Jesus as Here te verkondig. Hy staar die doodstraf in die gesig, die Romeine het enige sweem van oproer wreed onderdruk om die Romeinse Ryk bymekaar te hou. Voorbeelde is gemaak van oproermakers om ander af te skrik.

In hierdie omstandighede sê Paulus wat vir hom die heel belangrikste in sy hele lewe is. Wanneer hy sê dat hy niks wil doen waaroor hy hom sal skaam nie, sê hy dat hy nie Jesus wil verloën nie. Dit sou die maklike uitweg wees. Verloën Jesus, erken die keiser is 'n god, en as 'n gebore Romeinse burger sou hy waarskynlik vrygelaat word. Vir Paulus was dit geen opsie nie. Hy wil eerder tot eer van Jesus sterwe, as om Hom te verloën. Hy wil aanhou om met alle vrymoedigheid, sonder enige verhindering op sy gewete, vir Jesus verkondig aan alle mense. Dit was sy lewensroeping. Sy liefde vir Jesus het hom daartoe gedring. Paulus sê: my lewe is Christus. Ek lewe vir Jesus. Hy is my Koning, my Fondament in die lewe. Alles wat ek doen, wil ek doen om Hom te eer. Omdat Jesus my lewe is, is ek nie bang vir die dood nie. Om te sterf is 'n wins, dit bring 'n mens tot by Jesus. Vers 23 sê “Ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste …” Dis die taal van iemand wat sy lewe op Jesus bou, en nie meer die dood vrees nie. Die sin van die lewe: om Jesus voluit te dien. Dan is die dood net 'n bysaak.

Gebed: Here, baie dankie vir Paulus se voorbeeld. Mag ek dit so ervaar in my lewe, Here Jesus, dat U my lewe is. Mag my lewensroeping ook wees om U te verheerlik met alles wat ek is. Mag ek soos Paulus my vrees vir die dood verloor, en uitsien, om op die regte tyd wat U bepaal, saam met U te wees. Amen.