Dag 1: Lééf met vryheid en vreugde - Waarmee "stoei" jy? - 1 November 2019
Benescke Janse van Rensburg
Twee Britse toeriste in hulle 20’s is Dinsdag in ’n haaiaanval by Australië se Whitsunday-eilande beseer. Een van die beseerdes se voet is morsaf gebyt en albei is in ’n ernstige toestand. Hulle was glo besig om in die water te "stoei" toe die haai toeslaan.
In ons lewens "stoei" ons ook met uitdagings. Ons "stoei" met die bekommernis dat ons dalk nie finansieel deur die maand sal kom nie. Ons "stoei" met gedagtes dat ons huwelike in ’n egskeiding sal eindig. Ons "stoei" met vreesgedagtes om met ’n siektetoestand gediagnoseer te word of dalk om alleen oud te word. Solank ons "stoei" met ’n uitdaging, fokus ons daarop. Hoe langer dit voortgaan, hoe minder paraat is ons vir ’n aanval van die vyand van die kant af.
In 1 Petrus 5:8 lees ons: "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind." Ook in Efesiërs 6:11-12: "Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug."
Waarmee "stoei" jy vandag?
Kom ons stop vir ’n oomblik en kom uit die water uit. Kom ons herken die vyand se strategie en kies om opnuut ons fokus op God te plaas. Hy is in staat om ons met vryheid en vreugde te laat leef. Kom ons trek die wapenrusting aan en beskerm ons gedagtewêreld. Jesus Christus het reeds die vyand oorwin en Hy het aan ons die outoriteit gegee om dieselfde te doen! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek elke bekommernis in my lewens waarmee ek "stoei" voor U kan kom neerlê. Ek bring spesifiek vandag (noem die bekommernis) na U toe. Vul my asseblief met vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
• Foto: Sien foto van die twee Britse toeriste by www.benescke.co.za of op die Facebook-bladsy, Stories van Hoop, https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
• Terugvoer: Gesels saam by