Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 2: Kom ons gee Hom die eer - 4 November 2019

Benescke Janse van Rensburg

12-32. Dié finale telling op die telbord in Saterdag se Rugby Wêreldbekereindstryd gaan verseker nog vir jare glimlagte op ons gesigte plaas. Die Springbokke, wat nie ’n kans gegun was nie, het koning gekraai en keer binnekort terug met die gesogte William Webb Ellis trofee.

In ’n onderhoud vóór die toernooi het afrigter Rassie Erasmus gesê sy uitkyk op die rol van sport het deur die loop van jare verander. Vir hom gaan dit nie meer net oor wen nie, maar om ondersteuners en ons land te inspireer en met hoop te vul. Dít het die Springbokke verseker reggekry.

In sy onderhoud ná die wedstryd het kaptein Sia Kolisi gesê dat hy die land nog nooit só verenig agter die span gesien staan het nie. Selfs Prins Harry, wat ’n draai in die kleedkamers gemaak het, om die Springbokke geluk te wens met hul oorwinning, het gesê dat hy dink ons as land het hierdie wen die meeste nodig gehad.

Dit is maklik om die wen aan harde werk en ’n bietjie geluk toe te skryf. Tog kan ek nie help om God se strategiese Hand in alles te sien nie – die verloor in die groepwedstryde sodat ons die pad kon volg wat ons gevolg het tot by die finaal; die drie-drukkers in die finaal, Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe; en dan die man van die wedstryd, Duane Vermeulen. Almal in ons land is verteenwoordig en ons kon as ’n eenheid saam feesvier.

Waar daar eenheid is, is daar seëning. Dít is wat die vyand in ons land wil steel. In Psalm 133:1,3 lees ons: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! . . . Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën.” Ook in Romeine 12:18 staan geskryf: “As dit moontlik is, sovêr dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” En dan in Matteus 6:10 leer Jesus die mense bid met hierdie woorde: “. . . laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Kom ons sê dankie vir God vir die geskenk van hierdie eenheidsgevoel en trots wat ons as ’n nasie tans ervaar. Kom ons hou aan bid dat God sy koninkryk sal laat neerdaal in ons gesinne, ons gemeenskappe en ons land. Só ervaar ons God se seëning! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die eenheidsgevoel wat ons tans beleef. Help ons om nie bekommerd te wees oor ons toekoms omdat ons weet dat U reeds daar is. Mag ons vra dat U koninkryk en teenwoordigheid sal neerdaal in ons gesinne, gemeenskappe en ons land. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Foto’s en ekstra artikels: Vir skakels na inspirerende stories en foto’s van die wedstryd, klik op www.benescke.co.za of kyk op die Facebookbladsy, Stories van Hoop, https://www.facebook.com/storiesvanhoop/

• Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.

Previous article: Dag 3: Wees Waaksaam - 5 November 2019 Prev Next article: Dag 1: Lééf met vryheid en vreugde - Waarmee "stoei" jy? - 1 November 2019 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.