God is aan jou kant - laat Hom toe om jou tuin te laat groei - 31 Oktober 2019
Louise Gevers
Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Psalm 1:1-3
'n Lewe van eenvoudige geloof en vertroue in God, en gehoorsaamheid aan sy Woord, soos hier in Psalm 1 beskryf word, lei tot groot geluk en seën. God seën en voorsien in ons behoeftes deur die Bybel as primêre 'go to' bron aan ons te gee wanneer ons vrae vra soos "Gee God werklik vir my om?" en "Is Hy regtig aan my kant?" Deur die inhoud te bestudeer en die Bybel van voor tot agter te leer ken, leer ons hoe om selfs in moeilike tye as oorwinnaars te leef. Nederigheid en afhanklikheid van God is noodsaaklik om ons daaglikse uitdagings te oorkom.
Ons verbly ons in die ontdekking dat God, deur sy genade en liefde, vir sy kinders omgee, en dat Hy inderdaad ons Leidsman is.
Toe ek op 'n keer moes bid oor 'n belangrike besluit wat ek moes neem, het ek 'n teks in Prediker ontdek wat my gehelp het met my besluit: "Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal 'n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie." (Prediker 11:6) Hierdie woorde verteenwoordig die volle lewe waar ons ons godgegewe talente moet gebruik en in geloof moet wag vir die uitkoms.
My ondervinding van hoe God plante in my tuin laat groei, inspireer my. Om saad te saai en struike te plant en dit oor maande te versorg, is baie bevredigend, maar ek is altyd bewus dat my kundigheid om goeie omstandighede vir groei te verskaf, is uiters beperk. Dit is die Here alleen wat die plante in my tuin laat groei en Hy bepaal die sukses daarvan – daarom vertrou ek Hom altyd om by my te wees wat ook al gedoen moet word, en my vreugde ken geen perke wanneer, deur sy genade, my tuin floreer nie. Hoeveel te meer het ons Hom nie nodig in die tuin van ons lewens nie?
Op dieselfde manier moet ons God in ons lewens laat heers: ons moet ons aan Hom onderwerp en die fisiese werk doen, maar op Hom vertrou om ons te lei deur die keuses en ondervindings van die die lewe en glo dat Hy ons sal laat groei soos die bome van Psalm 1 "wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie."
Gebed: Liefdevolle Vader, wanneer ek U vra om die tuin van my lewe te laat groei, open asseblief my oë vir die skoonheid en prag wat slegs U in my lewe kan bewerkstellig. Help my asseblief en rus my elke dag toe deur u Gees en u liefde. Dankie dat U altyd aan my kant is. Amen