Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is aan jou kant - Loof Hom in al die seisoene - 30 Oktober 2019

Louise Gevers

Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red. Met wie kan julle My vergelyk, aan wie kan julle My gelykstel, met wie kan julle My op een lyn stel, wie kan 'n vergelyking met My deurstaan? Jesaja 46:3-5

Watter wonderlike belofte maak God nie hier aan sy kinders van hulle geboorte tot in die gryse ouderdom nie, 'n belofte wat alle seisoene van die lewe insluit. (Prediker 3:2-11) Dit is 'n belofte wat slegs God kan hou. Seisoene is 'n verrykende deel van ons lewe, dit kom en gaan. Soms verkies mens een seisoen bo 'n ander en maak nie die meeste van die seisoen waarin jy jou bevind nie. Ons geniet net die volgende seisoen as ons die een waarin ons is ten volle benut en in geloof "… in alle omstandighede dankbaar [is], want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag." (1 Tessaloninsense 5:18)

Ek het nou een oggend wakker geword met die goue strale van die son wat deur die blare van die boom voor my venster skyn, 'n nuwe môre, nuwe vars skoonheid. Die geluidjies van ons baba kleindogter met my dogter in die kamer langsaan, het my hart met vreugde gevul.

Dit is 'n nuwe seisoen in my lewe, 'n seisoen om my in God se goedheid en genade te verbly en om Hom te loof en prys dat Hy my al die pad gedra het en my lewe met rykheid en blydskap gevul het. Hy het reeds my dogter en kleindogter bewaar en hulle veilig deur 'n moeilike geboorte gebring. Hy het ook voorsien dat ek hier by hulle kan wees.

Hoeveel te meer as 'n liefdevolle moeder, is ons Almagtige God nie getrou en in staat om ons te help nie. (1 Oktober) Daar is geen vergelyking nie - 'n moeder se liefdevolle sorg het geen beheer oor lewe en dood nie - dit behoort aan God alleen. Hy werk met perfekte wysheid en koördinasie en met oneindige liefde en sorg. Hy is onvergelykbaar. Hy was daar in die moeilike tyd en Hy het ons gebede verhoor. Hy het in hulle behoeftes voorsien en Hy doen dit steeds tot in die kleinste besonderhede. "Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy." (Psalm 18:30)

In Paulus se woorde: "Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het" (Efesiërs 3:14-15) en prys Hom vir sy sorg vir ons en ons gesin. Hy plaas ons in gesinne, en alhoewel onvolmaak, bewys ons wederkerige liefde en ondersteuning aan mekaar. Hy vorm en seën elkeen en voorsien in ons behoeftes en bevredig ons verwagtinge. Hy voorsien nuwe seisoene.

In al die seisoene van ons lewens, nooi Hy ons uit om Hom te vertrou en leer Hy ons dat geloof beteken om te glo in dit wat ons nie kan sien nie, maar met die wete dat Hy getrou is en ons nooit sal verlaat nie.

Gebed: "Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons." (Psalm 37:8-10) Help my om U in al die seisoene van my lewe te prys, en om U goedheid en liefde, selfs wanneer dit 'n donker of droë seisone is, te erken. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen

Previous article: God is aan jou kant - laat Hom toe om jou tuin te laat groei - 31 Oktober 2019 Prev Next article: God is aan jou kant - Hy het 'n hart vir sy kinders - 29 Oktober 2019 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.