Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is aan jou kant - Hy het 'n hart vir sy kinders - 29 Oktober 2019

Louise Gevers

Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Lukas 18:15-16

Om iemand te seën is 'n baie mooi gebaar om God se guns en sy beskerming te vra vir die persoon wat die seën ontvang. Ons seën ander omdat ons vir hulle omgee en net die beste vir hulle wil hê. Dit is dus nie 'n verrassing dat die mense wou gehad het dat hulle kosbare kinders God se guns moes ontvang nie en daarom het hulle die kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle kon seën.

Alhoewel sy dissipels probeer het om hulle weg te hou, het Jesus hulle met ope arms verwelkom. Na alle waarskynlikheid het die dissipels gedink dat Jesus, 'n Rabbi, te besig en belangrik was om deur hierdie kleinstes in die samelewing gepla te word. Maar Jesus het die kant van die kindertjies gekies en die knorrige dissipels berispe vir hulle dade, en toe vir hulle 'n belangrike les oor prioriteite in die koninkryk geleer.

Kinders is vir die Here baie belangrik. Die psalmdigter sê: "Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee." (Psalm 127:3). Hy maak elkeen se bevrugting moontlik en weef elke deel aanmekaar in die moeder se baarmoeder. Hy sien hoe elkeen ontwikkel. (Psalm 1239:13-16) Kinders het 'n belangrike rol om te vervul in die koninkryk van God en dit is 'n bewys dat niemand in God se oë te jonk of onbelangrik is vir Hom om lief te hê en as sy kind te verwelkom nie.

Mense dink dikwels dat kinders in die groter prentjie van die lewe onbelangrik is, maar Jesus beklemtoon egter onmiddellik dat kinders belangrik is en ook die model is vir enigiemand om te volg wat die koninkryk van die hemel wil ontvang. "Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie." (Lukas 18:17)

Kyk 'n mens na 'n babatjie tref die onskuld, weerloosheid en volkome deursigtigheid van sy behoeftes, jou – maak nie saak hoe basies nie – en hy is altyd gereed om liefde, troos en sorg te ontvang. 'n Babatjie weet net dat hy behoeftes het, hy weet niks van gierigheid, afguns, haat of enige ander negatiewe eienskappe nie. Vir ons om die koninkryk van die hemel te ontvang, moet ons volkome deursigtig en weerloos voor God wees, ons moet al ons pretensies laat vaar en, soos 'n kindjie van sy aardse vader, volkome van Hom afhanklik wees.

In sy brief moedig Petrus Christene aan deur te sê: "Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry." (1 Petrus 2:2)

Gebed: Liefdevolle Vader, dankie dat kinders vir U kosbaar is en dat U hulle nooit wegstuur nie, maar hulle seën om vir ander tot seën te wees. Gee dat ons kinders vir ons ook kosbaar sal wees en dat ons hulle na U toe sal bring. Help my ook om in my geloof soos 'n kind te wees en suiwer geestelike melk na waarde te ag sodat ek waarlik in u koninkryk kan groei en 'n bemoediging kan wees vir diegene wat U nog nie ken nie. Amen

Previous article: God is aan jou kant - Loof Hom in al die seisoene - 30 Oktober 2019 Prev Next article: God is aan jou kant - Sy Gees bring die waarheid - 28 Oktober 2019 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.