Vers n dag - 11 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 28: “WIL” EN “SAL”
Deur Benescke Janse van Rensburg
“Wil” en “sal”. Wat is die verskil tussen hierdie twee woorde? Meestal net ’n gesindheid.
Kyk vir ’n oomblik na hierdie twee teksverse uit die Psalms:
Psalm 103:1-2: “Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. . .”
Psalm 34:1-3: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.”
Soms gaan ons deur goeie seisoene in ons lewens waar ons byvoorbeeld ’n promosie by die werk kry, die lewensmaat van ons drome ontmoet of die nuus ontvang dat ons na jare se gebed eindelik swanger is. In hierdie tye is dit maklik om soos Dawid in Psalm 103 te sê: “Ek wil die Here loof met alles wat in my is.”
Ander kere gaan ons egter deur moeilike seisoene waar ons byvoorbeeld uitvind dat ’n kind van ons aan dwelms verslaaf is, dat ’n huweliksmaat ’n buite-egtelike verhouding het, dat ons met ’n ongeneeslike siekte gediagnoseer is of waar ons hoor ons is een van die werknemers wat by die werk afgelê gaan word. In hierdie seisoene is dit soms moeilik om God te prys omdat dit selfs voel asof Hy van ons vergeet het. Dawid het self ook deur moeilike seisoene gegaan. Een hiervan was toe hy homself kranksinnig moes hou om die dood vry te spring (1 Samuel 21). Luister egter na sy woorde in Psalm 34 nadat die vyand hom vrygelaat het: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.”
Dawid het besef dat wanneer ons God in goeie, sowel as uitdagende tye, prys, ons onsself aan sy grootheid herinner en ook sy vermoë om alles altyd ten goede te laat meewerk.
Ek wonder: Gaan jy vandag deur ’n Psalm 103 of ’n Psalm 34 seisoen? Kom ons maak saam die keuse om ons Skepper deurentyd te loof en te prys. Só behou ons perspektief van sy grootheid. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U nooit van my vergeet nie – selfs al voel ek soms alleen. Help my om aan te hou om U te prys in goeie en slegte tye met die wete dat U altyd alles ten goede laat meewerk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
- ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus