Vers n dag - 12 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 29: GOD BLY IN BEHEER
Deur Benescke Janse van Rensburg
AGTERGROND: Pieter Koen en Joey van Zyl, beide Vers-n-Dag lesers, vertel vandag hoe hulle God se grootheid en getrouheid in hulle lewens beleef het:
Pieter Koen: “In 1971 het ek as radiotegnikus by die Ysterplaatlugmagbasis gewerk. Een middag tydens oefening vir die verbyvlug hoor ons dat daar heelwat plek op die drie Mercurius vliegtuie is wat ’n draai oor Tafelberg en die see sou vlieg. Ek het die beheertoring gebel en gevra of ek en ’n vriend kon saamvlieg. Hulle het dadelik ingestem. Ons sersant-majoor het egter toestemming geweier en ’n rukkie later het ons teleurgesteld gestaan en toekyk hoe die vliegtuie opstyg. Ons kans om saam te vlieg was daarmee heen. ’n Halfuur later het ons die nuus ontvang dat die drie vliegtuie in formasie in Tafelberg vasgevlieg het. Daar was geen oorlewendes nie. Toe ons die sersant-majoor vra hoekom hy geweier het dat ons op die vliegtuig klim, het hy gesê hy het geen rede gehad nie. Vandag besef ek dat dit God was wat ons daardie dag gespaar het!”
Joey aan Zyl: “Waar ons ’n paar jaar gelede langs die Vaalrivier gewoon het, het ek een middag vir my man gevra om vir my ’n mat uit te skud. Hy het dit oor die rivier gedoen. In die proses het sy trouring van sy vinger afgegly en in die water geval. Dit was winter en die water was baie koud en troebel. Hoewel ons verskeie kere met die swembadnet deur die water gesif het in ’n poging om die ring op te spoor, het ons niks anders as modder, slyk, blare en klippe gekry nie. Almal wat gehelp soek het, het later moed opgegee, maar ek het aangehou bid in die Naam van Jesus Christus dat ons die ring sou opspoor. Sowat vier maande later het die waterraad die sluise van die Vaalrivier oopgemaak wat die watervlak by ons heeltemal laat daal het. Ons kinders het in die modderpoele gespeel en ek het besluit om te gaan ondersoek instel. Om een of ander rede het ek gevoel dat ek ’n vurk uit die kombuis moes saamneem toe ek by die deur uitstap. In die rivierbed het ek vir myself ’n plekkie gevind om te gaan sit waar ek ons kinders kon dophou. Ons hondjie het na my gehardloop. Voordat ek hom op my skoot getel het, het ek die vurk langs my in die modder gesteek. Toe ek minute later opstaan om terug huis toe te stap, het ek die vurk uit die modder getrek. Skielik het ek na my asem gesnak: In die vurk het my man se trouring gepryk! Ek was totaal uit die veld geslaan. Vandag weet ek dat geen gebed vir God te onbelangrik of belaglik is om te beantwoord nie! Al die eer kom Hom toe.”
Pieter en Joey het beide God se almagtigheid beleef. Net so het die Psalmdigter ook. Luister weer na sy woorde in Psalm 77:15: “U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar.” Ook in Psalm 4:4 lees ons: “Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep.”
Gaan jy vandag deur ’n moeilike situasie? Waarom kies jy nie ook om dit met God te bespreek nie. Hy is almagtig en oneindig lief vir jou. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my gebede hoor en dat U my beskerm en bewaar teen gevaar. Lei my vandag deur u Heilige Gees op die regte pad. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
- ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus