Vers n dag - 10 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 27: WAT IS JOU WOORDKEUSE?
Deur Benescke Janse van Rensburg
Dink vir ’n oomblik aan jou gesprekke oor die afgelope tyd met diegene rondom jou. Was dit meestal positief of negatief?
Die Amerikaanse sielkundige, Henry H Goddard het ’n navorsingstudie onderneem waarin hy die effek van woorde op kinders wou toets. In die studie het hy ’n ergograaf (’n apparaat wat energievlakke meet) aan elk van die kinders in die kamer gekoppel. Hierna het hy om die beurt komplimente en kritiek na die kinders geslinger. Die resultaat? Met ’n kompliment of opbouende woorde het die energievlakke die hoogte in geskiet. Net so, met kritiek was daar ’n duidelike afname in die energievlak by die kinders.
Hierdie beginsel geld ook vir volwassenes.
Elke persoon wil gewild wees met baie vriende. Elke ouer en grootouer wil suksesvolle kinders en/of kleinkinders hê. En elke getroude paartjie wil ’n huwelik hê wat werk.
In Psalm 141:3 gee die Psalmdigter aan ons ’n belangrike sleutel vir suksesvolle verhoudings: “Sit ’n wag voor my mond Here. Hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge. Dat ek nie in sonde verval saam met die wat onreg doen nie...”
Begin vandag soek na geleenthede om die mense rondom jou met eerlike komplimente op te bou en vra die Heilige Gees om ’n wag voor jou mond te sit. Jy mag dalk verbaas staan hoe jou positiwiteit die atmosfeer in jou huis, jou werkplek en selfs jou huwelik kan verander. Sterkte!
Vader God, dankie dat ek U kan vra om my te help om te let op my woordkeuse. Help my om doelbewus te soek vir goeie dinge in ander sodat ek hulle kan komplimenteer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus