Vers n dag - 28 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 19: GAAN JY OOR TOT AKSIE?
Deur Benescke Janse van Rensburg
Wanneer laas het jy na een van die standbeelde gekyk waar ’n beroemde militêre held op ’n perd se rug sit? Nogal vreemd hoe die beeldhouers meestal die gewig van die standbeeld op die perd se agterpote laat rus terwyl die voorpote hoog in die lug kap, kompleet asof die perd gereed is om haastig iewers heen te jaag. Tog is hierdie perd vir ewig vasgevang in die oomblik net voor die aksie. Slaggereed, maar niks gebeur ooit nie.
Ek wonder hoeveel van ons kan met hierdie standbeeld vergelyk word? Ons droom byvoorbeeld daarvan om ons eie besigheid te begin, maar ons doen dit nooit nie. Ons praat van hoe ons by ’n gemeenskapsorganisasie of ’n bediening by die kerk betrokke wil raak, maar dit gebeur nooit nie. Of ons oorweeg dit om vrede te maak met ’n geliefde met wie ons ’n onderonsie gehad het, maar wanneer die oomblik aanbreek, vermy ons dit. Ons is soos die ruiter op die perd: Slaggereed, maar niks gebeur ooit nie.
Besef jy dat daar by God geen vervaldatum op jou drome is nie? Meestal is dit ons wat toelaat dat vrees, ’n minderwaardigheidskompleks, bitterheid of die verskoning dat ons nie genoeg tyd of geld het nie, ons terughou om tot aksie oor te gaan en ons lewensdoel op aarde uit te leef.
In Psalm 90:1-4 skryf Moses, wat reeds 80 jaar oud was toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het, die volgende: “Here, U was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders! Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak.”
God bestaan van ewigheid tot ewigheid en daar is geen beperking op wat Hy kan doen die oomblik wanneer ons bereid is om ons posisie van slaggereedheid te verlaat en tot aksie oor te gaan nie. Kom ons doen dit vandag. Kom ons galop saam die toekoms in! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my uniek geskape het. Gee my die krag om vir ’n slag verby my verskonings en beperkinge in my lewe te kyk en voluit te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Benescke tree op as spreker by:
-
Saterdag, 30 Julie 2011: Sprankel-Vrouekonferensie by die La Rochelle Kerk in Bellville. Kontakpersoon: Hanneli 021 919 6468 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . -
Dinsdag, 9 Augustus 2011: By die Logos Kerksaal in Bellville. Kontakpersoon: Mari van Eeden by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus