Vers n dag - 27 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 18: GEE GOD DIE EER VIR JOU PRESTASIE
Deur Benescke Janse van Rensburg
As jy ’n motorsport entoesias is, sal jy regop sit as jy Lewis Hamilton se naam hoor. Hy was immers Sondag as die wenner van die Duitse Formule 1 Grand Prix gekroon. Na afloop van sy oorwinning het hy gesê hy was opgewonde en trots om die Britse volkslied, God Save The Queen, te hoor toe hy op die podium gestaan het. Tog het hy gewens dat die volkslied langer gemaak kan word aangesien van sy mededingers se volksliedere veel langer is en hulle daarom langer tyd kry om bo-op die podium te staan.
Die oomblik toe die volkslied klaar gespeel was, het Hamilton die Formule 1-tradisie gevolg en ’n bottel vonkelwyn oor die toeskouers uitgespuit om te sorg dat hulle in sy oorwinning deel – en taai tot agter hulle ore van die prysuitdelingseremonie wegstap.
Dié insident het my aan twee dinge laat dink: Eerstens, ons almal staan van tyd tot tyd soos Hamilton op podiums wanneer ons presteer, ’n promosie by die werk ontvang of ’n deurbraak beleef. Wat is jou reaksie te midde van hierdie tye? Gee jy die eer aan God wat Hom toekom of vat jy die eer vir jouself terwyl jy wens dat jy nog langer op die podium kan vertoef?
Tweedens, net soos die vonkelwyn uitgespuit word oor die toeskouers, spuit ons elkeen daagliks iets uit oor diegene rondom ons. Is dit liefde, vreugde en vrede van God? Of spuit jy selfsug, negatiwiteit en bitterheid uit?
In Psalm 34:2-5 lees ons hierdie loflied wat Dawid oor God sing: “Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. . . Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare.”
Daar is niks fout om vir jou prestasie vereer te word nie. Onthou egter waar dit vandaan kom. En kom ons maak ’n punt om liefde, vreugde en vrede ons vonkelwyn te maak wat ons na die mense rondom ons uitspuit sodat hulle nader na God getrek word. Sterkte.
Vader God, ek loof en prys U vir u almag en heerlikheid. Dankie, dat U my in staat stel om te presteer. Help my om u ligdraer te wees in die mense se lewens rondom my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Benescke tree op as spreker by:
-
Saterdag, 30 Julie 2011: Sprankel-Vrouekonferensie by die La Rochelle Kerk in Bellville. Kontakpersoon: Hanneli 021 919 6468 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . -
Dinsdag, 9 Augustus 2011: By die Logos Kerksaal in Bellville. Kontakpersoon: Mari van Eeden by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus