Vers n dag - 15 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 10: SORG DAT JOU WINDSKERM OP IS
Deur Benescke Janse van Rensburg
Het ’n insek al ooit in jou oog ingevlieg? Indien wel, sal jy kan getuig dat dit ’n mens se oog geweldig laat brand terwyl jy soms met moeite van dié “gedierte” ontslae probeer raak.
In Holland het Arnold van Vliet, ’n bioloog aan die Universiteit van Wageningen onlangs ’n interessante studie onderneem. Hy en sy span navorsers wou bepaal hoeveel insekte jaarliks vrek nadat dit in Hollanders se motors vasgevlieg het. Vir ’n tydperk van ses weke het 250 bestuurders aan die projek deelgeneem deur die insekmerke aan die einde van ’n dag aan die windskerm en hulle voorste nommerplaat te tel. Die gemiddeld van die respondente is vermenigvuldig met die aantal motoriste in Holland en die slotsom was dat elke ses maande ongeveer 800 biljoen insekte in Holland omkom.
Kan jy jouself indink hoe vol van insekte jou hare en klere sal word as jy vir ’n tydperk van ses maande sonder ’n windskerm in jou motor probeer bestuur? ’n Grillerige prentjie, nie waar nie?
Net soos die insekte teen die windskerm vasvlieg, vlieg uitdagings op ’n gereelde basis in ons almal se rigtings. Hierdie “insekte” kom in die vorm van ’n krisis by die werk, slegte tyding oor jou gesondheid of selfs ’n verbrokkelende verhouding. As ons nalaat om te bid vir God se leiding en beskerming, raak ons soos bestuurders wat sonder ’n windskerm probeer bestuur – wat natuurlik veroorsaak dat insekte ons kan tref waar dit die seerste maak. Tog, wanneer ons vir God se leiding en beskerming bid, plaas Hy ’n windskerm voor ons wat die impak van die uitdagings breek. Hy stel ons selfs in staat om die insekmerke van die windskerm af te vee sonder dat enige van die insekte ooit tot by ons gekom het.
In Psalm 84 beskryf die Psalmdigter vir God as ons skild wat ons teen die aanslae van die bose beskerm. Luister weer na sy woorde in Psalm 84:9-12: “HERE, God van die leërskare, hoor my gebed. . . O God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde. . . die HERE God is ’n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.” (1953-hersiening)
God wil ons beskerm teen die vyand se aanvalle en Hy wil ons seën met goeie dinge. Kom ons vra Hom daagliks om ons te lei en te beskerm en ook om ’n splinternuwe windskerm reg voor ons te installeer. Sterkte!
Vader God, baie dankie vir U beskerming en leiding in my lewe. Plaas asseblief ’n windskerm voor my wat my van die aanslae van die vyand beskerm. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Saterdag, 30 Julie 2011: Benescke tree op as spreker by die Sprankel-Vrouekonferensie by die La Rochelle Kerk in Bellville. Kontakpersoon: Hanneli 021 919 6468 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus