Vers n dag - 14 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 9: “HELP” ANDER LAG EN HUIL. . .
Deur Benescke Janse van Rensburg
Een aand staan oom Bert se buurvrou in haar kombuis en kosmaak toe sy deur die venster sien hoe hy alleen op sy stoep sit en staar na die grond. Dit was duidelik dat hy sy vrou van veertig jaar, wat kort vantevore gesterf het, geweldig gemis het.
Terwyl die buurvrou nog na oom Bert kyk sien sy hoe haar 8-jarige seuntjie by die trappe van sy huis opstap en op die ou man se skoot klim voordat hy met sy kop teen oom Bert se bors gaan lê. Amper onmiddellik begin oom Bert snik dat sy skouers ruk terwyl die seuntjie stil by hom sit.
Na ’n hele paar minute hoor die buurvrou hoe die voordeur van hulle huis oop en toegaan voordat haar seuntjie verskyn. “Wat het jy vir oom Bert gesê dat so gehuil het?” vra die ma toe sy haar seuntjie sien. “Niks nie, mamma,” antwoord hy. “Ek het hom maar net gehelp huil.”
Wanneer ons, ons medemens in tye van nood en hartseer bystaan, halveer ons die las wat hulle dra. Net so, as ons in die vreugde van ons medemens deel word die vreugde verdubbel.
In Psalm 41:2-3 lees ons: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke. Die Here sal hom red op die dag van nood, die Here sal hom beskerm en in die lewe hou . . .” En in Psalm 34:19 bevestig die Psalmdigter dat God naby ons wanneer ons hartseer is: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”
Hou jou oë vandag oop vir geleenthede waar God jou as instrument wil gebruik iemand in nood of hartseer by te staan. Ook, bedank Hom as Hy iemand anders oor jou pad stuur om jou in jou nood of hartseer te vertroos. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my vertroos in my seer en nood. Help my om ook gehoorsaam te wees as U my benodig om vir U ’n instrument te wees om seer en nood van ander te verlig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Saterdag, 30 Julie 2011: Benescke tree op as spreker by die Sprankel-Vrouekonferensie by die La Rochelle Kerk in Bellville. Kontakpersoon: Hanneli 021 919 6468 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus