Vers n dag - 13 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 8: HY SLUIMER OF SLAAP NOOIT NIE. . .
Deur Benescke Janse van Rensburg
Hier is ’n uittreksel van Joppie de Beer, ’n forensiese ondersoeker by ’n ouditeursmaatskappy in Mafikeng en ook ’n Vers-’n-Dag leser se getuienis:
Joppie: “’n Jaar gelede moes ek op ’n dag tussen Mafikeng en Delareyville ry. Die wind het verskriklik gewaai en ek moes die stuurwiel stewig vashou om te verhoed dat my motor voor die aankomende verkeer inswaai. Ek was egter verskriklik vaak en het gesukkel om agter die stuurwiel wakker te bly. Selfs nie eens toe ek die vensters afdraai en my kop uitsteek het dit gehelp om my van my vaakheid te verlos nie.
“In ’n stadium het my hele liggaam geruk van skok by die besef dat ek vir ’n oomblik aan die slaap geraak het. Ek kon gelukkig my motor betyds terug na die regte baan bring. ’n Paar minute later het dit weer gebeur. Die keer het ek met ’n harde slag teen my windskerm wawyd wakker geskrik. Adrenalien het deur my are gepomp terwyl ek hard op my motor se rem getrap het om dit tot stilstand te bring. In my tru-spieëltjie kon ek die droë mieliestok sien wat nou oor die pad gewaai het. Meteens het ek God se stem duidelik in my hart ervaar: ‘De Beer, jy was vas aan die slaap. Ek het die stok gebruik om jou wakker te maak, want ek is jou Beskermer.’ Daardie nag het ek verstom gestaan oor God se beskerming. Al die eer gaan aan Hom.”
Joppie is reg. God kan en wil ons beskerm. In Psalm 121 skryf die Psalmdigter: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. . . Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”
Vertrou jy dat God jou en jou geliefdes in die werkplek, by die huis en ook op die pad sal beskerm? As jy dus weer onrustig slaap, herinner jouself dat Hy nooit sluimer of slaap nie, maar daagliks oor jou waak! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my beskerm teen alle gevaar. Help my om daagliks my oë na U op te slaan as ek begin vrees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
* Kyk na ’n foto van Joppie op die STORIES VAN HOOP groep se bladsy op die sosiale netwerk, FBook.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Saterdag, 30 Julie 2011: Benescke tree op as spreker by die Sprankel-Vrouekonferensie by die La Rochelle Kerk in Bellville. Kontakpersoon: Hanneli 021 919 6468 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus