Vers n dag - 18 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms.
DAG 11: RAAK JY STIL?
Deur Benescke Janse van Rensburg
Om ’n ma van vyftien kinders te wees is nie ’n maklike taak nie. Voeg daarby dat jy saam met jou gesin in ’n beknopte huis woon met geen bystand om na die kinders om te sien nie. Dít was die lewe van Susannah Wesley. Op die vraag hoe sy dit regkry om kop bo water te hou, het sy geantwoord: “Dit is net deur gebed dat ek saans by my volle positiewe in die bed klim.”
Maar waar het Susannah in hulle huis met geen privaatheid en met kinders wat raas, tyd en ruimte gekry om voor God stil te raak? Haar antwoord was ’n verrassing. Elke dag sou sy ’n stoel teen die muur skuif en met ’n voorskoot oor haar kop daarop gaan sit. Die kinders het geweet dat dit beteken dat mamma bid en dat hulle, hul moet gedra. Op die stoel het Susannah ’n manier gevind om in die oog van die storm in te beweeg waar dit stil rondom haar kon raak terwyl sy met God praat en luister hoe Hy met haar terugpraat.
Susannah se voorbeeld moes ’n uitwerking op haar kinders gehad het aangesien twee van haar seuns later bekendes in die kerkwêreld geword het: John Wesley was die stigter van die Metodistekerk en sy broer, Charles Wesley was die skrywer van talle bekende gesange.
Wat is jou reaksie wanneer storms in jou lewe woed? Maak jy tyd om stil te word en met God oor jou storms te gesels of word jy deur die storms ingetrek terwyl jy van God vergeet?
In Psalm 89:9-10 lees ons: “Here, almagtige God, wie is soos U? . . . U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.” Ook in Psalm 46:11-12 lees ons: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting.”
God is Almagtig. Hy beskut ons teen storms en Hy maak die golwe wat in ons werkplek of huisgesin woed, stil. Al wat ons moet doen, is om tyd te vind waar ons in die oog van die storm kan inbeweeg sodat ons met ons Maker daaroor kan gesels en soos Susannah kan luister hoe Hy teruggesels. Sterke.
Vader God, baie dankie dat U die storms in my lewe kan stil maak. Lei my om die geleenthede in my lewe raak te sien waar ek soos Susannah in my besige dag kan stil raak om met U te gesels en van U te hoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
-
PRAATJIE:
-
Saterdag, 30 Julie 2011: Benescke tree op as spreker by die Sprankel-Vrouekonferensie by die La Rochelle Kerk in Bellville. Kontakpersoon: Hanneli 021 919 6468 of
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus