Vers n dag - 8 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms.
DAG 5: KEER TERUG MET WAARDIGHEID
Deur Benescke Janse van Rensburg
Tydens die Viëtnamese oorlog is ’n groep Amerikaanse soldate as krygsgevangenes deur die vyand in hegtenis geneem. In die tronkselle het die soldate gespanne gewag dat die vyand hulle een-een kom haal om gemartel te word in die hoop dat hulle oorloginligting sou bekend maak.
Teen die einde van die oorlog het hierdie groep soldate na Amerika teruggekeer sonder dat hulle enige inligting aan die vyand oorgedra het. Die Amerikaanse weermag was verstom oor hulle vermoë om te swyg en het gevra hoe hulle dit reggekry het. Die bevelvoerder van die groep, ’n kaptein, het vorentoe getree en vertel: “Ek was eerste uit die tronksel laat haal. Net voordat die deur agter my toegegaan het, het een van my troepe my aan die skouer gevat en gesê: ‘Kaptein, keer terug met waardigheid.’ In die daaropvolgende ure van marteling waarin ek gebrand, geskok en amper verdrink is, het ek telkemale aan sy woorde gedink. Dit het my gehelp om my fokus te behou.”
Die kaptein se voorbeeld het die troepe geïnspireer om dieselfde te doen. Elke keer as nog ’n troep gehaal is, het hulle na mekaar gekyk en gesê: “Broer, keer terug met waardigheid.” Nie een van die manne het enige inligting aan die vyand gegee nie.
In ons lewens probeer die vyand ons ook van tyd tot tyd martel in die hoop dat ons van God sal wegstap. Hy brand, versmoor of verdrink ons dalk nie, maar sy aanvalle kom in die vorm van ’n duistere transaksie in die werkplek, ’n aantreklike kollega wat met jou flankeer terwyl jy getroud is of selfs ’n soetsappige skinderstorie wat jy hoor en weer oorvertel. Gaan jy voor die vyand se verleiding swig of gaan jy jou waardigheid behou en daarvan wegstap?
In Psalm 62:7-9 lees ons: “God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug.”
God maak ons sterk wanneer ons swak is sodat ons “nee” te kan sê vir versoekings wat ons pad kruis. Kom ons kies dus doelbewus om soos die kaptein en sy troepe vir God standpunt in te neem sodat ons met waardigheid na Hom kan terugkeer wanneer ons die ewigheid instap. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my versterk wanneer die versoeking in my lewe baie erg raak. Help my asseblief om besluite te neem wat my met waardigheid die ewigheid sal laat instap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus