Vers n dag - 7 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 4: WAT IS JOU VERWAGTING?
Deur Benescke Janse van Rensburg
In verlede week staan ek in die tou by die munisipaliteit om ’n rekening te betaal. Voor in die ry staan ’n desperate man en verduidelik aan die beampte dat hy werkloos is en dat hy gekom het om reëlings te tref om hulle agterstallige elektrisiteitrekening oor ’n tydperk af te betaal. Hy noem ook dat hy na sy bejaarde ma omsien wat by hulle bly. Met ’n geïrriteerde stemtoon lig die beampte agter die toonbank hom in dat hy eers ’n spesifieke bedrag moet betaal voordat hierdie “reëlings” getref kan word.
Terwyl ek afkyk na my beursie tref dit my dat ek presies die bedrag by my het wat die man benodig voordat hy hierdie “reëlings” kan tref. Toe die man met ’n lang gesig wegstap, stap ek nader en bied aan om die bedrag vir hom te betaal – dit is wat ek in my hart ervaar het om te doen. In stede daarvan dat hy my aanbod aanvaar (wat hom uit sy penarie sou red), staar hy geskok na my voordat hy antwoord: “Mevrou. . . ek kan mos nooit jou geld vat nie. . .”
’n Paar minute later stap ek teleurgesteld terug na my motor. Ek was immers oortuig dat die Heilige Gees my gelei het om die man te help. Waarom wou hy dan nie my hulp aanvaar nie? Meteens ervaar ek duidelik God se stem in my gees: “Benescke, dit is presies hoe Ek voel wanneer Ek my kinders wil seën, maar hulle nie dink dat hulle werd is om my seëninge te ontvang nie.”
Dink vir ’n oomblik na oor jou eie lewe. Met watter verwagting bid jy? Glo en vertrou jy dat God jou werklik kan en wil seën? Glo jy dat Jesus jou van jou sondes bevry wanneer jy daaroor berou het? Of kry die vyand dit reg om jou te laat voel soos die man in die munisipaliteit – nie werd om God se seëninge en vergifnis te ontvang nie?
Luister vir ’n oomblik weer na die Psalmdigter se woorde in Psalm 130:1,5: “Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my . . . Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.”
Wanneer jy in donker tye na God roep en op sy beloftes vertrou, kan jy met ’n geruste hart wag. Hy kan en wil jou help en seën met deurbrake vêr beter as wat jy selfs verwag. Hou jou oë vandag oop, want soms beantwoord Hy ons gebede op die mees onwaarskynlike maniere. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U almagtig is en dat daar by U geen beperkinge is nie. Lei my asseblief om oop te wees vir elke seëning wat U oor my pad wil stuur. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus