Vers n dag - 6 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms.
DAG 3: HET JY ’n HART VAN ’n MUIS?
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Indiese legende:
Op ’n dag het ’n muis ’n towenaar besoek. Hy wou van sy vrees vir katte ontslae raak en het die towenaar gesmeek om hom in ’n kat te verander. Die towenaar het die muis jammer gekry en aan sy versoek voldoen.
Die volgende dag was die kat egter terug: “Help my asseblief. Die honde vreet my senuwees op. Maak my asseblief ’n hond.” Toe die kat sy oë uitvee, het die towenaar hom in ’n tier verander.
Die tier het egter uitgevind van jagters en is vreesbevange terug na die towenaar. “Waarin kan jy my verander sodat ek van die vreesaanjaende jagters kan wegkom?” het hy bewend gevra. Die towenaar het sy staf geswaai en die tier het terug na ’n muis verander. “Jy het ’n hart van ’n muis,” het die towenaar geantwoord. “Ek kan jou dus nie help nie.”
In ons lewens is ons soms soos hierdie muis. Ons smeek God om ons van ’n spesifieke vrees vry te maak. Dan, net as ons vryheid in een area van ons lewens ervaar, ontdek ons iets anders wat ons laat vrees. Dit is eers as ons besef dat Jesus Christus vir ons gesterf het om ons volkome van vrees te bevry dat ons waarlik vry word.
Die Psalmdigter, Dawid het vir ’n klomp jaar voor koning Saul en sy manskappe weggevlug. In hierdie tyd het hy opnuut geleer dat hy God vir sy voorsiening en beskerming kan vertrou. In Psalm 34:5 lees ons: “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered.” (1953-hersiening)
Wat is die vrese in jou hart wat dreig om jou te oorweldig? ’n Vrees vir jou toekoms, jou gesondheid, jou finansiële posisie? Of vrees jy dalk dat jou kontrak by die werk nie aan die einde van die maand hernu gaan word nie? Onthou, Jesus het vir jou gesterf sodat jy in volkome vryheid kan leef. Wanneer daai kat, hond of jagter dus weer in die omtrek is, neem jou outoriteit in Jesus op en heers oor elkeen van hulle. Sterkte.
Vader God, dankie dat U my volkome van elke vrees in my lewe kan vrymaak. Help my om nie in die vrees vas te kyk nie, maar my outoriteit in U te besef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus