Vers n dag - 5 Julie 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms.
DAG 2: IS JY ’n KOLIBRIE OF ’n AASVOËL?
Deur Benescke Janse van Rensburg
In die Doodsvallei-woestyn van Kalifornië is daar twee tipes voëls: die kolibrie en die aasvoël. Die kolibrie is opsoek na die soet bloeisels van die kaktusplante; die aasvoël na verrotte karkasse. En albei hierdie voëls vind dit waarna hulle opsoek is.
In ons lewens is dit presies dieselfde. Ons kan óf soos die aasvoël die nuusblaaie fynkam en vaskyk in die negatiewe nuus van moorde, ekonomiese resessie, verhoogde elektrisiteitrekeninge, korrupsie en vele ander negatiewe nuusberigte wat ons in vrees laat leef. Aan die anderkant kan ons soos die kolibrie deur dieselfde koerant blaai en onsself telkens herinner dat selfs al is daar negatiewe berigte, God steeds in beheer van die wêreld, ons land en ook ons lewens bly. Hy is soewerein en het in elke situasie die finale sê en as gevaar op ons afstorm is dit Hy wat ons daarteen beskerm.
Voel jy vandag oorweldig deur ’n krisis of vrees vir die toekoms? Luister dan weer na die woorde in Psalm 121:1-3,7-8: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. . . Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”
God is ons Beskermer. Haal af jou negatiewe aasvoël bril en sit op jou positiewe kolibrie bril. Begin dank God vir alles wat jy het. Só sal jy verbaas staan om skielik die soet bloeisels reg rondom jou raak te sien wat God daar geplaas het om jou lewe goed en mooi te maak.
Vader God, dankie dat U soewerein bly en my te midde van gevaar beskerm. Help my ook asseblief om met ’n positiewe gesindheid deur die lewe te gaan – selfs al dreig negatiewe nuus om my te oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
NUUSBROKKIES:
-
ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus